Reën, Sneeu en sonskyn by uithourit

Daar was behoorlik vier seisoene die naweek tydens die 27ste De Zeekoe Perde-uithourit, by Kansa Krale net buite Oudtshoorn.

Meer as 50 perde en hul ruiters het die baan aangepak, met slegs 6 perde wat tydens die rit uitgeval het.

Met Vrydag se wegspring het die reën uitgesak en sneeu het op die Swartberge gelê. Teen Saterdag was die windjie steeds koel, maar het dit later heerlik warm geraak.

Ruiters het die baan ten volle geniet en ’n volstruiswyfie teen een van die heinings het gesorg vir ’n paar benoude oomblikke wat ruiters se perdry-vernuf deeglik getoets het.

Die wenners in die 80 km en 120 km afstande was as volg:
Vrydag se 80 km-rit is deur Stephanie de Jager en haar perd Rofty gewen. Hulle het die 80 km in ’n tyd van 3:50:53 voltooi.

Saterdag het Dominique Kotzenberg die 120 km met haar perd Sicada Zar in ’n wentyd van 6:24:17 voltooi.

Tydens Saterdag se 80 km-rit was Lara le Roux en Ankhe Muller se perde neus aan neus, maar Le Roux en haar perd Locheim Camino is eerste oor die wenstreep met ’n tyd van 3:14:11, slegs 6 sekondes voor Muller se perd Koringkloof Traka Blue Steel.

Die klub bedank graag hul borge: Die Hoorn, Oudtshoorn Munisipaliteit, Midas, Van Rooyen Propshafts and Balancing Shop, De Krans, Calitzdorp Wynkelder, Boplaas Family Vineyards, Glenwood Wines, Karusa Wines & Craft Brewery, Spurwing Equine Feeds, Horse & Rides, Apex Animal Health, Alert Patrol, Lancewood Cheese, Volmoed Cottage, Top Loo’s, Ebon le Roux van De Denne Boerdery en Cape Karoo International. (Deur Angelique Erasmus)