Deur Liesel le Roux
TEN minste drie politieke partye gaan op 30 Mei die tussenverkiesing in Wyk 13 op Oudtshoorn beveg.
Die wyk het vakant geraak na die dood van die DA-wyksraadslid, Pieter Luiters, vroeër vanjaar.
Die DA, ANC en EFF het vandeesweek aangedui dat hul partye die wyk gaan betwis.
Die DA se kandidaat is Marcellis Theyse.
Volgens Tertius Simmers, die DA se verkiesingshoof vir Oudtshoorn, is Theyse bekend en gerespekteerd in die wyk waar hy al bykans 40 jaar lank woon.
Die ANC se kandidaat is ’n bekende in raadskringe. Volgens die DA-raadslid Klaas Windvogel, gaan Michael Wagenaar, ’n voormalige ANC-raadslid, die party in die tussenverkiesing verteenwoordig.
Diswayne Maarman, EFF-raadslid op Oudtshoorn, sê die party se kandidaat vir die tussenverkiesing is Romeo Prins.
Volgens Dawid Kamfer, provinsiale voorsitter van Icosa, gaan die party nie aan die tussenverkiesing deelneem nie.
Die Hoorn kon nie daarin slaag om vas te stel of Sarco, die party wat deur raadslid Gaven Juthe in die raad verteenwoordig word, ook die tussenverkiesing gaan beveg nie.