Saamgestel deur Kobus Heyns
DAAR is twee soorte raadslede in ’n munisipale raad: wyks- en proporsionele raadslede.
Alle plaaslike en metropolitaanse munisipaliteite is in wyke ingedeel. ’n Wyksraadslid verteenwoordig ’n wyk in die munisipale raad. Die kandidaat wat die meeste stemme in die wyk kry met ’n verkiesing, word die wyksraadslid, en dien as voorsitter van sy/haar wykskomitee.
Proporsionele raadslede verteenwoordig ’n politieke party in die raad en word deur ’n stelsel van “proporsionele verteenwoordiging” verkies. In hierdie stelsel nomineer politieke partye hul kandidate vir die partylys. Die getal stemme wat ’n party kry, bepaal die getal kandidate wat ’n politieke party in ’n raad sal hê.
Die pligte van ’n raadslid is:
• Om die mense in die munisipaliteit te verteenwoordig en saam met ander raadslede in die beste belang van die gemeenskap te werk. Raadslede moet ook die behoeftes van die gemeenskap aan die raad kommunikeer.
•Raadslede moet vir vergade-rings voorberei en dit bywoon.
• Raadslede moet die prestasie van die munisipaliteit moniteer; probleme aanmeld en terugvoer gee oor die munisipaliteit se prestasie.
• Raadslede moet die gedragskode volg wat insluit dat inligting nie bekend gemaak word aan mense wat onregverdig daarby kan baat nie.
Die termyn van ʼn munisipale raad is hoogstens vyf jaar, soos deur nasionale wetgewing bepaal. Indien ʼn raad ingevolge nasionale wetgewing ontbind word of sy termyn verstryk, moet ʼn verkiesing binne 90 dae vanaf die datum waarop die raad ontbind is of sy termyn verstryk het, gehou word.
Suid-Afrikaanse munisipaliteite is diep in die moeilikheid as gevolg van korrupsie, gebrekkige dienslewering en onstabiele rade.
Huishoudings en inwoners ervaar al baie jare die impak hiervan. Daar is toenemende bewyse dat bestuur en mislukkings in dienslewering ook die doeltreffendheid van boerdery en landboubesighede in klein dorpe op die platteland direk beïnvloed.
Oral in Suid-Afrika verkrummel dienslewering weens swak bestuur. Navorsing toon dat slegs sowat 53% van munisipale amptenare matriek of ’n hoër kwalifikasie het. Bestuurders het nie altyd die vaardighede om hul personeel se ontwikkeling optimaal te benut en te bestuur nie.
Aanstelling van mense sonder toepaslike kwalifikasies blyk landwyd algemeen te wees en strem dienslewering. Nepotisme met aanstellings is holrug gery.
Gemeenskappe het geen idee wat binne ’n munisipaliteit aangaan nie, en trek aan die kortste ent. Munisipale leiers bestuur dikwels munisipaliteite asof dit hul besitting is, ten koste van die mense wat hulle daar gestel het.
Daar is sowat 278 munisipaliteite in Suid-Afrika, met 163 munisipaliteite in finansiële nood, 40 wat sukkel om basiese dienste te lewer en 102 wat begrotings vir 2021/22 aanvaar het wat hulle nie kan finansier nie. ’n Groeiende getal versuim ook om inkomste van inwoners en besighede vir elektrisiteit, water en eiendomsbelasting in te vorder.
Kiesers moet verantwoordelikheid aanvaar waar munisipale dienste in duie gestort het. Dit is egter die kiesers wat die raadslede verkies het en versuim het om hulle betyds tot verantwoording te roep. Raadslede kan aanspreeklik gehou word deur byvoorbeeld in verkiesings vir ’n ander party/persoon wat bekwaam is te stem; deelname aan partypolitieke vergaderings; persoonlike kontak (verkieslik gesprek); briewe, petisies en die media; en vreedsame protes.
Kiesers moet stem vir etiese, bekwame raadslede wat die gemeenskap se belange op die hart dra.
Raadslede moet ook oor die vermoë beskik om met nasionale en internasionale beleggers te onderhandel om in hul dorpe te investeer.
In Suid Afrika bepaal die nasionale regering die nasionale ekonomiese ontwikkelingsbeleid en dryf die soektog na beleggings deur sowel plaaslike as internasionale beleggers. Die provinsiale regering speel ook ’n groot rol in die soeke na beleggings. Die suksesvolste provinsie is die Wes-Kaap, wat tans die status het as die land se tegnologiese sentrum.
Beleggers open besighede en nywerhede, bring ontwikkeling en vooruitgang na dorpe, mits die munisipaliteit doeltreffend bestuur en dienste volhoubaar gelewer word. Beleggers betaal belasting, verskaf werk en broodnodige vaardigheidsopleiding. Dit is nood- saaklik dat die ekonomiese basis van gemeenskappe vergroot word.
Demokrasie is in aksie op 1 November met die landwye munisipale verkiesings.
Kiesers en georganiseerde organisasies moet aktief betrokke bly na die verkiesing deur hul verkose raadslede tot verantwoor-ding te roep. Onstabiele rade wat hul kiesers versaak, moet dadelik aanspreeklik gehou word. Die kiesers het die finale sê. Raadslede kry nie ’n “blanko tjek” om te maak soos hulle wil na hulle verkies is nie. Raadslede wat kort-kort oor die draad spring, moet die toestemming van hul kiesers kry en kan nie teen die wil van die kiesers gaan nie. Onthou: U stem bly geheim, stem verantwoordelik en stem vir vooruitgang.
Bron: Dr Harlan Cloete, buitengewone lektor by die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch se navorsing oor munisipale bestuur. Hoofstuk 7: Plaaslike Regering (artikels 151-164) wetgewing.
Plaaslike regering en hoe werk dit – Deel 2
