By die ondertekening van ’n samewerkingsooreenkoms tussen die DA en die KOP (Karoo-Ontwikkelingsparty) op Laingsburg was van links Wilhelm Theron (DA-voorsitter, Laingsburg, en nuwe speaker), Bonginkosi Madikizela (Wes-Kaapse DA-leier) en Willem Adams (KOP-voorsitter). Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
’N SPLINTERNUWE koalisieregering tussen die DA en Karoo-Ontwikkelingsparty (KOP) is Dinsdag gevorm nadat ’n ooreenkoms tussen dié twee partye gesluit is. ’n ANC/KOP-koalisie het die dorp die afgelope tien maande bestuur.
Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier, het Dinsdag na Laingsburg gereis om die DA/KOP-ooreenkoms te onderteken saam met raadslid Wilhelm Theron, DA-kiesafdelingsvoorsitter, en raadslid Willem Adams, KOP-leier. Die nuwe burgemeester sedert gister is raadslid Johannes Meintjies (KOP), met raadslid Bertie van As (DA) wat as onderburgemeester aangewys is. Theron is die speaker.
Adams het by die ondertekening gesê “dis die laaste keer dat dié koalisie verbreek word; die KOP/DA-samewerkingsooreenkoms is finaal. Dis ernstige sake dié. Dit gaan oor die verbetering van menselewens. Die dae dat inwoners dink hier gebeur niks, is verby.”
Madikizela het gesê die Wes-Kaapse regering sal Laingsburg onmiddellik help “met ’n finansiële inspuiting van R4 miljoen”.
Volgens Annelie Rabie (DA), wat die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit (SKDM – Laingsburg, Prins Albert, Beaufort-Wes) hier verteenwoordig het, is sy verheug daaroor dat die DA/KOP-koalisie weer in beheer is van Laingsburg. “As daar spanning is in een van dié SKDM-komponente, spoel dit oor na die res. Wat nou hier gebeur het, is belangrik vir ’n stabiele regeringomgewing in die hele Sentraal-Karoo.”
Volgens haar is Laingburg die belangrike ekonomiese skakel tussen die Kaap en die Karoo.