Spesiale raadsvergadering tydelik verdaag
Deur Liesel le Roux
’N SPESIALE raadsvergadering op Oudtshoorn moes verlede Vrydag tydelik verdaag word nadat lawaaierige inwoners in die openbare galery die speaker van die raad geïgnoreer het toe sy hul herhaaldelik gevra het om stil te bly.
Die speaker, Julia le Roux, het die vergadering tydelik verdaag tydens die bespreking van die huidige stand van en die doelwitte ten opsigte van gelyke indiensneming by die munisipaliteit.
Van die mense in die openbare galery was teen daardie tyd so rumoerig dat die raadslede hulle nie meer tydens hul spreekbeurte hoorbaar kon maak nie.
Toe die vergadering ná die verdaging van sowat 20 minute hervat is, het Le Roux aangedui dat die raad verder personeelsake in komitee gaan bespreek en dat die publiek en media om dié rede die vergadering moet verlaat.
Dit was duidelik uit hul gedrag en tussenwerpsels dat baie van die inwoners wat lustig saamgesels en kommentaar uitgeskree het, in opposisie was met die DA. Van die mense het egter aan Die Hoorn gesê dat hulle onafhanklik is en nie aan ’n party behoort nie.
Gelyke indiensneming
Die huidige stand van indiensneming by die munisipaliteit is volgens die raadsagenda soos volg (met die doelwitte wat bereik moet word tussen hakies): bruin mans: 44% (23%); bruin vroue: 20% (25%); wit mans: 9,3% (8%); wit vroue: 2,6% (8%); swart mans: 15% (17%); swart vroue 7,58% (17%), Indiër-mans: 0% (1%) en Indiër-vroue: 1% (1%); mense met gestrendheid: 0,29% (1,86%). Daar is tans 672 werknemers by die munisipaliteit met 554 poste wat vakant is.
Kworum tydens raadsvergadering
Raadslid Nondumisa Magopeni van die ANC het aangedui dat die ANC beoog om ’n brief aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, te skryf omdat daar volgens hulle nie ’n kworum was by die vorige raadsvergadering wat die raad se begroting vir 2018/2019 aanvaar het nie.
Twaalf raadslede het die begroting aanvaar met nege wat dit teengestaan het. Een vakature het in daardie stadium in die raad bestaan (Wyk 13), met twee raadslede wat afwesig was met verskoning.
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het gesê volgens sy kennis en mening was die besluit wettig omdat meer as 50% van die raadslede die begroting aanvaar het. Hy het egter die ANC aangemoedig om die minister te nader vir ’n beslissing.