Visse vrek aan moontlike suurstoftekort

HONDERDE visse het verlede Donderdagoggend (5 Maart 2020) dood in die Kammanassierivier gelê.

Die rivier het in 2014 laas geloop en kry sy water uit die Kammanassiedam.
Martine Jordaan, fauna-ekoloog van CapeNature se Jonkershoekkantoor buite Stellenbosch, sê dat dit kan wees as gevolg van die hitte die vorige dag (Woensdag), toe die kwik tot hoër as 40 grade gestyg het.

“Die hitte en die gepaardgaande droogte kan ’n uitwerking hê op die waterkwaliteit, terwyl suur­stofvlakke op hul laagste is in die oggende,” het sy gesê.

Onder die visse wat gevrek het, was karpe, ’n paar babers en moggelvisse.
Babers is visse wat inheems is aan die Oranje-Vaalrivierstelsel.

Moggelvisse is inheems aan die streek, terwyl karpe ’n indringerspesie is.
Jordaan sê die skalie-geologie in die Klein-Karoo-streek het ook hoër soutvlakke wat die water ook baie brak maak. (Deur Angelique Erasmus)