
Brig Levona Januari
DIE stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, brig Levona Januari, is reeds amper drie jaar op Oudtshoorn.
Hierdie mense-mens is ook aktief betrokke by alle sosiale projekte by skole en kleuterskole.
Sy sê hoewel sy haar hele polisieloopbaan in die Kaapse Metropool werksaam was, geniet sy die landelike gebied waar sy nou werk.
“Misdaad is die polisie se kernfunksie; so ons fokus sal altyd op misdaad gerig wees. Dit is belangrik dat die publiek verstaan dat ons prioriteite het en dat daar altyd sekere voorkeure sal wees. Daarby wil dit nie sê dat sekere misdaad en sekere klagtes minderwaardig geag word nie, maar prioritisering is belangrik.
“In ’n onlangse bosberaad by die gebiedskantoor is daar weer klem gelê op ons prioriteit-misdaad en gebiede wat misdaadknelpunte is.”
Januarie sê daar vind voorturend ontledings plaas om tendense te bepaal. Dit gebeur gereeld dat die publiek in voorvalle betrokke is, maar nie sake maak oor die voorvalle nie. Dit sluit veral voorvalle in waar kinders betrokke is, want hulle redeneer dat die kinders niks oorkom nie.
“Dit mag wees dat die kinders nie noodwendig gearresteer word nie, maar daar is ’n proses wat gevolg moet word en die betrokke kind se misdaadgeskiedenis word geboekstaaf. Nou weet die polisie van die misdaad en kan ons daarvolgens beplan. Ons wil dit baie duidelik maak dat indien daar ’n voorval is waar ’n kind of karwag ’n kriminele oortreding begaan, daar asseblief sake aangemeld moet word. Dit is die publiek se plig en sal verseker dat ons meer effektief kan optree.”
Januari sê daar gaan ’n daadwerklike poging aangewend word om die misdadige element by die kinders op straat en karwagte aan te spreek.
“Aanrandingsake is en bly steeds ’n groot probleem in Bridgton en Bongulethu oor naweke en baie sake word aangemeld. Dit dui op ’n houding van onverdraagsaamhied en is dikwels drankverwant. Ons spandeer baie tyd met die ondersoeke wat dan later eenvoudig deur die klaers teruggetrek word. Dit moet ook genoem word dat die meeste voorvalle tussen vriende of kennisse plaasvind.
“Daar is steeds huisbraaksake wat plaasvind en ons is in lyn met vorige jare, maar ek is seker ons kan met die publiek se hulp en samewerking ’n daling bewerkstellig. Daar vind nog baie voorvalle plaas waar die misdadiger baie maklik toegang tot wonings en besighede kry.