14 Februarie bring welkome reën maar ook hael en modderwater

So het dit verlede week op die plaas van Johan Saayman langs die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp gelyk nadat ’n aantal plase daar goeie reën gekry het. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
GOEIE reën in die Oudtshoorn-omgewing het verlede Woensdag hoop gebring te midde van die droogte wat die gebied tans teister.
Op die plaas van Johan Saayman sowat 33 km buite Oudtshoorn langs die sementpad (rigting Calitzdorp) het 50 mm binne ’n uur geval.
“Dit lig sommer ’n mens se gemoed,” sê Saayman.
Volgens Saayman is reënval van tussen 48 en 52 mm op plase in ’n strook van sowat 5 km gemeet. Dit was die eerste goeie reën in daardie gebied sedert November 2016.
Saayman sê die reën het dit nou weer vir hom moontlik gemaak om lusern te kon plant as voer vir die volstruise en beeste op sy plaas. Hy sê die koste van veevoer in die droogte plaas geweldige finansiële druk op boere. Hy moet sowat R100 000 per maand vir veevoer opdok.
Harde reën het ook in die omgewing van die Raubenheimerdam geval en die damvlak van 55% verlede week laat styg na 56,69%, terwyl reën in die opvangsgebied van die Stompdriftdam dié dam se vlak van 2,6% verlede week laat styg het na 8,3%. By die Raubenheimerdam het 40 mm reën geval en by die Rust en Vrede Waterval 50 mm.