Preston Titus-moordsaak
Deur Garnett Wicomb
DIE borgaansoek van Magdaleen (Maggie) Titus (41), vrou van die vermoorde soldaat, Preston Titus, word vandag in die Oudtshoorn Streekhof voortgesit met die kruisondervraging van die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux. Le Roux was gister ook heeldag in die getuiebank.
Titus word saam met haar boesemvriendin, Nathasia Stuurman, aangekla van moord met voorbedagte rade en die besit van gevaarlike wapens.
Dit was ’n lang dag in die hof met landdros Errol Thomas wat hofgangers gewaarsku het dat hy die borgaansoek verder agter geslote deure sal aanhoor indien hulle voortgaan om opmerkings in die hof te maak. “Dit is ’n steurnis vir verrigtinge en intimidasie van die applikant se prokureur sowel as die staat, het hy gesê.
Die staat opponeer die toestaan van borg aan Titus terwyl haar regsverteenwoordiger, Joshua Greeff, dit in belang van geregtigheid beskou dat borgtog wel toegestaan word.
Le Roux het gisteroggend getuig dat die bewoners van die alternatiewe verblyfadres wat Titus aan die hof voorgelê het, hom meegedeel het dat hulle nie vir haar huisvesting kan gee nie. Volgens Le Roux het die betrokke vrou en haar man besluit dat Titus nie by hulle kan bly indien sy borgtog toegestaan word nie.
Met kruisondervraging het Greeff dit aan Le Roux gestel dat die polisie nie die regte prosedure gevolg het toe Titus op 19 Januarie op Barrydale in hegtenis geneem is nie. Op ’n vraag of die arrestasiebeampte die lasbrief by hom gehad het, het Le Roux geantwoord dat hy nie weet nie omdat hy nie teenwoordig was nie.
Die lasbrief is wel aan alle polisiekantore tussen Oudtshoorn en Kaapstad gestuur.
Greeff het dit ook aan Le Roux gestel dat Titus nie oor die fondse, glo R90 000 volgens Sixabiso Klip se pleitooreenkoms met die staat, beskik het om die vermeende huurmoordenaars te betaal nie. Hierop het Le Roux geantwoord dat hy nog nie insae in Titus se bankrekening gehad het nie. Hy het bevestig dat Titus reg van die begin haar volle samewerking in die ondersoek gegee het.