Blink ysterperde in verskillende kleure en enjingroottes gaan eersdaags in die Klein Karoo brul. Die gewilde jaarlikse De GrootVoël-motorfietssaamtrek vind volgende naweek vanaf 28 tot 30 November by die Kango Bergoord net buite Oudtshoorn plaas.
Die doel van die saamtrek is om motorfiets-entoesiaste van regoor die land saam te bring sodat hulle kan ontspan en bande kan smee, het Alex van der Walt, president van Bikers Heart klub Oudts-hoorn, aan Die Hoorn gesê. Hulle klub reël die De GrootVoël-motorfiets-saamtrek.
Deelnemers samel ook geld in vir die verskeie organisasies wat elke klub ondersteun.
Die eerste De GrootVoël-motorfietssaamtrek het verlede jaar plaasgevind, met sowat 1 300 motorfietsryers wat kom kuier het.
Om vanjaar se motorfietssaamtrek nog meer uniek te maak, het Van der Walt en sy span verskeie saamtrekke oor die land bygewoon om meer kennis in te win oor wat werk en wat nie werk by sulke byeenkomste nie.
Hulle het ook saam met die munisipaliteit, plaaslike besighede asook die SWD motorfietsklub gewerk om landswye bemarking vir die saamtrek te verseker.
“Ons het ook lekker duur pryse die jaar, te danke aan al die vennote se ondersteuning,” sê hy.
Vanjaar is daar ook vir die spoedvrate weer ’n resies op Oudtshoorn se aanloopbaan, maar die keer word daar langer vertoef as die vorige jaar. Daar gaan ook in Vredestraat ’n “burnout klubs” kompetisie wees waar nie net die rook gaan draai nie, maar bywoners na hul asems gaan snak wanneer waaghalse toertjies doen.
Daar wag ook ’n lekker groot veras-sing, maar vir eers is dit ’n geheim.
Die klub beoog om in 2026 die gewilde “toy run” instelling aan te bied.
“Die De GrootVoël-motorfiets-saamtrek se doel is om saam met verskeie rolspelers soos die munisipaliteit, toerisme en verskeie motorfiets-assosiasies, dit een van die grootste en veiligste motor- fietssaamtrekke in die land te maak. Ons glo dat te danke aan spanwerk en broederskap, ons daadwerklik ’n verskil kan maak in ander se lewens wat hulp nodig het,” sluit Van der Walt af.
As jy lus is vir die opwinding, die atmosfeer en die gesang van brullende enjins, is alle toeskouers welkom om te kom kuier.
Hulle kan selfs deelneem aan van die speletjies, lafenis vind in die koel swembad, en daar sal heerlike eet- en drinkgoed beskikbaar wees.
Kom maak ’n draai, met of sonder ’n ysterperd.
Kontak gerus vir Alex by 064 891 3937 of vir Junita by 072 836 9425, of stuur ’n e-pos na info@grootvoelrally.co.za. (ANGELIQUE ERASMUS)
Ysterperde eersdaags by De GrootVoël-motorfietssaamtrek
Die rolspelers het verlede Vrydag by die Kango Bergoord bymekaar gekom. Foto: Angelique Erasmus