Die Rabie-egpaar, wat in 2016 van 68 klagtes van bedrog beskuldig is, is op Donderdag 13 November, na nege jaar, skuldig bevind op 34 klagtes, nadat daar bevind is dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Streeklanddros Daniel Boks se uitspraak het drie ure geduur.
“Marthinus Rabie het die departement met wanvoorstellings bedrieg, en daar was samewerking tussen jou en jou vrou, om die twee beslote koöperasies te bevoordeel. Jy het fisies gehelp met projekte,” het hy tydens sy uitspraak gesê.
Die bedrogklagtes is ook teen twee beslote koöperasies, Attakwa en Gwaiing Ontwikkelings, wat aan Johanna Rabie behoort, gemaak.
Die saak is egter tot 25 Februarie 2026 uitgestel vir korrektiewe verslag en vonnisverrigtinge, en die egpaar is op waarskuwing vrygelaat.
Die hof het bevind dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by Oudtshoorn proefplaas, sy vrou Johanna, sowel as haar twee koöperasies, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van miljoene rande se tenders.
Adv. Nodada Gantolo van die bate-beslagsleggingseenheid van die polisie het na die skuldigbevinding die hof meegedeel dat sy ’n aansoek sal bring vir ’n hofbevel, en dat die beskuldigdes die geld moet terugbetaal wat hulle gemaak het deur die pleging van die misdade, en indien nie, die staat aansoek sal doen om hul bates te verkoop om die geld terug te kry wat hulle van die staat gesteel het. Die datum vir die aansoek is 19 Mei 2026.
Hyron Goulding was die aanklaer in die verhoor, en a/o JP Kennedy die ondersoekbeampte.
Adv. Henry van Breda het namens die beskuldigdes opgetree. (GARNETT WICOMB)
Uitspraak in Rabie-saak na nege jaar
