Klein veranderinge, groot verskil

Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes word jaarliks vanaf 3 November tot 3 Desember in die kollig geplaas, waar die laaste dag ook die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede insluit. Gestremdhede word in vyf kategorieë verdeel: fisiek, sensories, intellektueel, neurologies en psigososiaal.

In 2025 lê die fokus op toeganklikheid. Toeganklikheid gaan nie net oor opritte en breër deure nie, maar oor die gevoel dat elke mens welkom is en volwaardig kan deelneem. Die bewusmakingsmaand her-inner ons daaraan dat ware inklusiwiteit begin by klein veranderinge wat ’n groot verskil kan maak in mense se daaglikse lewe. Verskeie geleenthede is al in die dorp gehou om die belangrikheid van toeganklikheid uit te lig en te wys hoe ’n inklusiewer wêreld geskep kan word. Een van hierdie geleenthede was ’n optog wat deur Eljada-Kairos Skool gereël is.

Die optog, wat verlede Donderdag plaasgevind het, het in Baron van Reedestraat begin, waar leerders pamflette aan die publiek uitgedeel het om groter bewustheid oor gestremdhede te skep.
Verlede Donderdag het terapeute ook ’n leerder in ’n rolstoel na verskeie plekke in die dorp geneem wat rolstoeltoeganklik is, om die belangrikheid daarvan te demonstreer.

Engela Nel (foto bo), ‘n arbeidsterapeut en inwoner van Oudtshoorn, deel haar ervaring as ‘n persoon met dwergisme en hoe ‘n inklusiewer leefwêreld geskep kan word:
“Oudtshoorn is my hartsplek en omdat dit ‘n klein dorp is, ken mense my. Dit gee my ook die vrymoedigheid om te vra vir hulp, veral om by hoë plekke by te kom of swaar items te dra. Ek is versot op die kinderwinkeltrollies, want dit is skaalgrootte vir iemand van my lengte. Met afleweringsdienste hoef ek nie meer dikwels winkels te besoek nie, en die bykom by hoë winkelrakke en die dra van swaar items word vir my gedoen.

Vroeg in my terugkeer na Oudtshoorn in 2010 het ek my gunsteling restaurant gereeld besoek. Ek het net terloops genoem dat die wasbak te hoog is, en die volgende dag het ek ‘n foto ontvang van ‘n krat wat onder die wasbak geplaas is. Dit is 15 jaar later en ek gebruik dit nogsteeds. By die kroegtoonbank is daar twee spesifieke stoele waar ek die pilaar kan gebruik as ’n trap om op te klim. Dit is die klein goed wat die grootste verskil kan maak.

Daar is soveel maniere waarop my vriende my met humor en omgee help. Hulle help my met onder andere hout kap in die winter vir my kaggel, om die kaste heel bo in my huis vir my reg te pak, gordyne te hang, ‘n bed se kopstuk te kom opsit, my boom te kom snoei, ‘n tent op te vou en selfs gras te sny. Dit klink dalk alledaags, maar vir my is dit heldedade.

‘n Inklusiewer leefwêreld baat nie net persone met gestremdhede nie, maar maak die lewe vir die gemiddelde persoon ook makliker.

Rolstoeltoeganklikheid word dikwels verkeerd verstaan. Die hoofrede vir geallokeerde parkeerplekke is nie om nader aan die ingang te wees nie, maar om genoeg ruimte te bied vir oorplasings vanaf die motor na die rolstoel en toegang tot die sypaadjie of binne die gebou.

Rolstoelopritte vereis ‘n gepaste helling en baat nie net rolstoelgebruikers nie, maar ook mense met looprame of krukke, ouers met stootwaentjies, mense met knie- of heupprobleme, afleweraars en vele meer.

Dit is belangrik vir rolstoeltoeganklike badkamers om aan standaarde te voldoen. Daar moet spasie langs die toilet wees vir die oorplasing vanaf die rolstoel, en grypstawe langs en agter die toilet maak dit veiliger.

Rolstoeltoeganklike badkamers wat aan die internasionale standaarde voldoen, se sitplekke het ’n spesifieke hoogte om oorplasings te vergemaklik en sodoende mense met knie- en heupprobleme te ondersteun.

Wasbakke is gewoonlik laer en sonder onderliggende pilare, sodat gebruikers hul bene daaronder kan instoot. Die krane het ook gewoonlik langer hefboom handvatsels. Waar moontlik gebruik ek hierdie badkamers oor die hoogte van die wasbak, maar wie ook kan baat met laer wasbakke is kinders.

Die badkamers maak dit makliker vir kinders, ouers, ouer persone en versorgers om die fasiliteit te gebruik. Tog word sulke ruimtes soms misbruik of is sleutels moeilik om kry.

Daar is ook toeganklikheidsaspekte wat nie argitektuur en boukonstruksies insluit nie. Dit sluit in die grootte van die skrif op inligtingstukke, die grootte van die skrif en uitleg op PowerPoint skyfies, duidelik gemerkte naamborde en kennisgewingsborde, goeie beligting en kontrasstroke op trappe, en selfs strategiese plasing van luidsprekers vir gehoorbeperkings.

Maya Angelo het een keer aan Oprah Winfrey gesê: ‘When you know better, you do better.’
Daar is soveel mense met gestremdhede wat nie ooglopend is nie, en mense wat tydelik gestremd is weens mediese redes. Toeganklikheid is ‘n wen vir almal.

Op die ou einde soek mense met gestremdhede dieselfde as enige ander persoon: ‘n gevoel van behoort tot ‘n gemeenskap, vriendskap, onafhanklikheid en ‘n goeie dosis humor.” (MALISSA SPIES)