LEERDERS wat hul toneelspelvernuf wil slyp én heerlike pryse van meer as R50 000 in totaal wil wen, kan tot 30 April inskryf vir die derde aanlyn-KKNK Dramaweb SA-kompetisie.
“Ons hoofdoel is om alle aspekte van toneelspel uit te bou en te ontwikkel en ’n koesterende omgewing van groei te skep waar al die deelnemers die wonder van die verhoog, mekaar, en hul eie talente voor ’n aanlyngehoor kan slyp,” sê Ira Blanckenberg, inisieerder en organiseerder van die inisiatief.
Lizané Basson, algemene bestuurder van die KKNK sê die projek wil ’n liefde vir die kunste en literatuur onder kinders en die jeug kweek, vir hulle ’n platform bied, vaardighede soos selfvertroue ontwikkel en waardes versterk, onder meer dissipline, empatie, en vele ander.
Een van verlede jaar se wenners, Mia-Cecilia Kriel van Curro Durbanville, sê haar deelname verlede jaar was vir haar waardevol.
“Dis aanlyn, so meer leerders in Suid-Afrika kry geleentheid om deel te neem. Die terugvoer is baie goed en deeglik en wys jou waar daar plek is vir verbetering. Ek het die hele ondervinding baie geniet!”
Die pryse vanjaar sluit ’n betaalde stemkontrak in om ’n oudio-boekvoorlesing vir die BiB-leesplatform te doen; verskeie geskenkbewyse van boek- en skryfbehoeftewinkels en koffie- en eetplekke, twee “hoverboards”, grimeergeskenkpakke, Bluetooth-luidsprekers asook talle ander geskenkpakke.
Leerders kan deelneem deur video-opnames vir die kompetisie in te skryf in een of meer van die volgende kategorieë: prosa, gedigte, monoloë, mimiek en ’n afdeling vir spreekkore.
Leerders sal teen hul eweknieë landwyd deelneem.
Terugvoer van professionele akteurs in die bedryf sal aan elke deelnemer vir elke item gestuur word.
Aansoeke sluit Saterdag 30 April en die inskrywingsfooi is R170 per item.
Video-opnames van deelnemers kan tot 10 Mei by www.dramawebsa. co.za opgelaai word.
Deelname kan in Afrikaans of Engels wees met eie materiaal wat gekies moet word.
Die eindronde vir Afrikaanse items vind op 18 Junie plaas en vir Engelse items op 19 Junie. Dit vind aanlyn plaas en sal regstreeks gestroom word. Vir meer inligting, besoek www.kknk.co.za/dramaweb-sa/ of kontak Daventia Kennedy (044 203 8600) of e-pos na info@dramawebsa.co.za. Vir raad en onder- steuning, kontak Ira Blanckenberg by ira@dramawebsa.co.za.
Wonderlike pryse vir leerders in KKNK Dramaweb-kompetisie
