Magdaleen Titus kon nog elke dag van die verhoor deur ’n ring getrek word. Hier is sy tydens die ter plaatse besoek.

Bo: Sixabiso Klip is wat in die getuiebank is.
Onder: Klip se ouma omhels hom tydens ’n ter plaatse besoek aan die huis van Natashia Stuurman.


Justice Mooi en Magdaleen Titus gister in die beskuldigdebank. Hul regsverteenwoordigers het Sixabiso Klip, die staat se hoofgetuie, gister onder kruisverhoor geneem. Foto’s: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
SIXABISO KLIP het sy weergawe van die ge-beure rondom die moord op Preston Titus verander om ander te impliseer en was die eintlike meesterbrein agter Titus se moord omdat hy jaloers was op Magdaleen (Maggie) Titus.
Dit was die argument gister van adv Mustaque Holland in die Rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn waar Magdaleen en drie ander be-skuldigdes tereg staan op die moord op Preston Titus op 1 Desember 2017. Holland is die regsverteenwoordiger van Magdaleen.
Holland het die hof gister gewys op verskille in die geskrewe bekentenis, getikte bekentenis, pleitooreenkoms en getuienis van Klip, die staat se hoofgetuie, tydens sy kruisondervraging van Klip.
Klip, die voormalige motorbestuurder van Magdaleen, dien reeds 15 jaar gevangenisstraf uit nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Holland het dit aan Klip gestel dat hy en Magdaleen so na aan mekaar was dat mense gedink het hulle is in ’n verhouding betrokke. Klip het dit beaam.
Klip het in reaksie op die verskille in sy bekentenisse gesê dit kan daaraan toegeskryf word dat hy ten tye van die verklarings emosioneel en op sy senuwees was.
Adv Stoffel Prinsloo, regsverteenwoordiger van nog ’n beskuldigde, Justice Mooi, het ’n verklaring van Mooi aan die hof voorgehou wat Klip se verklaring op verskeie punte weerspreek.
Volgens Mooi het hy alleen na Oudtshoorn ge-reis en nie saam met ’n ander man soos Klip beweer het nie, en was Klip alleen in die motor toe dié hom (Mooi) opgelaai het.
Volgens Mooi was hy ook slegs die betrokke Woensdag by die Titus-woning en het hy die res van die week by Natashia Stuurman, ’n vriendin van Magdaleen wat ook ’n beskuldigde in die saak is, deurgebring. Hy sê hy het tot ná 23:00 Vrydagnag gewag vir Klip om hom na Port Elizabeth te vervoer, en dat Klip saam met ’n onbekende man by Stuurman se woning opgedaag het voordat hulle in Mosselbaai se rigting gery het.
Luidens Mooi se verklaring het Klip langs die pad gestop toe die onbekende man glo ’n draai moes loop, en het Klip en die man uit die motor geklim. Mooi sê hy was nie bewus daarvan dat hulle goed in die bosse weggesteek het nie.
Klip se kruisverhoor word vandag voortgesit.
Baie verhoudings
Klip het Maandagoggend begin getuig en is aanvanklik deur adv Christhénus van der Vijver namens die staat ondervra.
“Daar was baie,” het Klip gesê toe hy gevra is oor buite-egtelike verhoudings waarby Magdaleen betrokke was terwyl sy met Titus getroud was. Volgens Klip was een van die verhoudings met een van die beskuldigdes, Masimthembe (MJ) January.
Die hof het gehoor dat Mooi en ’n man wat nie deur Klip geïdentifiseer is nie, voor die moord in Stuurman se huis tuisgegaan het, terwyl haar maroenkleurige Ford Fiesta gebruik is om die vermeende moordenaars mee rond te ry en Titus se huis uit te wys, asook om Mooi dorp toe te neem waar hy na bewering slaappille en pepersproei by die apteek gekoop het.
Verskeie pogings om die moord te pleeg
Klip het getuig dat daar reeds planne was om Titus die Donderdagaand te vermoor deur vir hom “brake fluid” in te gee om hom te laat slaap.
Die plan is laat vaar nadat twee van Titus se vriende by die huis kom oornag het.
Klip, Mooi en die ongeïdentifiseerde man het wel na die Titus-huis gery, maar laasgenoemde het aangedui dat hy nie gemaklik was met die twee ander mans in die huis nie.
Die moord sou volgens Klip toe die Vrydagmiddag voortgaan. Magdaleen het ’n boodskap gestuur om te laat weet dat sy en die kinders nie daar is nie. Mooi het na bewering reeds die pepersproei in sy sak gehad en reggemaak om Titus daarmee te spuit toe Klip vir hulle sê hulle moet die plan laat vaar omdat die bure buite die huis was. Dit was egter ’n leuen omdat hy nie daar wou wees wanneer die moord plaasvind nie, het Klip getuig.
Klip het aangedui dat Mooi hom toe gevra het om ’n hamer vir hulle te kry. Hy het ’n hamer by sy pa se huis gekry en dit na Stuurman se huis geneem. Hier was Mooi en die ongeïdentifiseerde man besig om slaappille fyn te maak. Hulle het Magdaleen gevra om dit in Titus se kos te gooi. Sy het egter gesê Titus maak die dag kos, maar dat sy wel ’n plan sal maak.
Sy het volgens Klip aan Mooi en die ongeïdentifiseerde man gesê sy sal ’n swart sak in die braaivertrek los met R3500 kontant, ’n selfoon en ’n tablet sodat dit na ’n rooftog sal lyk.
Volgens Klip het hy vir Mooi en die ongeïdentifiseerde man later na Titus se huis vervoer en het hulle ná 20 min teruggekeer na die motor. Die onbekende man wou so gou moontlik wegkom, en het vir hom (Klip) gesê: “Go, go go go, go!”
Klip sê hy kon pepersproei in die motor ruik.
Wapens in bosse versteek
Hulle het daarna via Mosselbaai na George gery waar Magdaleen verblyf vir die twee vermeende moordenaars by die Gateway Lodge bespreek het. Volgens Klip het hy Mosselbaai omgery omdat hy bang was vir ’n padblokkade by die ou Bokomo-gebou.
Hy het langs die pad gestop waar Mooi en die ongeïdentifiseerde man voorwerpe in die bosse gaan versteek het, en by ’n vulstasie op Mosselbaai brandstof in die motor gegooi.
Klip het ook oor gebeure die Sondag ná die moord getuig. Volgens hom het Mooi gesê hy het die pepersproeihouer in die huis verloor. Later die dag het Klip saam met MJ en Stuurman in ’n kamer gesit en oor die moord gepraat. Magdaleen het glo ’n deurskynende plastieksakkie uitgehaal waarin die verlore pepersproeihouer was. MJ het dit geneem om daarvan ontslae te raak. MJ het ook al die boodskappe op Klip se foon probeer uitwis.
• Klip is drie dae later, die Woensdag, deur speurders vir ondervraging na die polisiekantoor op Oudtshoorn gebring. Hy het toe die Donderdag met behulp van ’n tolk sy bekentenis afgelê.