Alicia Berry. Foto: Facebook
Deur Angelique Erasmus
’n Jong vrou van Oudtshoorn het met twee ge-kraakte ribbes, ’n knop op die kop en ’n verstuite gewrig in die Mediclinic Klein Karoo beland nadat ’n tiener, vermoedelik ’n straatkind, haar Donderdag aangeval het.
Alicia Berry (22) is in Olivierstraat, die straatjie wat vanuit Baron van Reedestraat na De Jagers op Checkers se parkeerarea loop, aangeval.
“Ek kry nog nagmerries as ek in die aand slaap, en sal nooit weer alleen in die dorp rondloop nie,” sê sy.
Berry is Saterdag uit die hospitaal ontslaan.
Sy het aan Die Hoorn vertel dat sy op pad was om ’n kliënt van haar se selfoon by ’n selfoonwinkel te gaan haal toe sy aangeval is. Sy het vier kinders teen De Jagers se muur sien staan en besluit om te wag totdat hulle weg is.
Hulle het in die rigting van Checkers gestap en eers toe hulle om die hoek van die winkel ver-dwyn, het sy verder gestap. Alicia vertel haar sel-foon en werksleutels was in haar broeksakke.
Die volgende oomblik het ’n seun van sowat 17 jaar oud egter om die hoek gehardloop gekom en haar in die ribbes geslaan.
“Hy het my ook met sy kop geslaan en wou my om die nek gryp. Toe ek opkyk, het hy ’n skerp voorwerp in sy hand gehad. Hy wou my daarmee steek.”
Sy het besluit om terug te veg en hom met die vuis geslaan dat hy val. Sy vertel sy het na die pad gehardloop terwyl die ander drie kinders haar aanvaller kom help en hulle toe weggehardloop het.