OUDTSHOORN het op 2 en 3 Februarie gasheer gespeel vir die speakers van munisipaliteite van regoor die Wes-Kaap as deel van die South African Local Government Association (SALGA) se speakersforum.
Vir twee dae was die Oudtshoorn Munisipaliteit by De Opstal in die Schoemanshoek-omgewing die gasheer vir 30 speakers en ander amptenare van Wes-Kaapse munisipaliteite om belangrike kwessies binne plaaslike regering te bespreek.
Volgens Johan Allers (VF Plus), speaker van die Groter Oudtshoorn munisipale raad, word daar elke twee of drie maande gesprekke gevoer oor wetgewing ten opsigte van ’n speaker se verantwoordelikhede.
“In hierdie stadium is wetgewing baie streng op speakers geskoei. Hulle moet onder meer toesien dat burgemeesters hul werk doen.
Speakers moet ook verslag lewer aan die minister,” sê hy.
Die speaker van ’n raad is volgens Allers eintlik die “beskermengel” van ’n gemeenskap.
“Openbare deelnameprosesse gaan byvoorbeeld deur die speaker se kantoor, hy moet die dorp eintlik bymekaar hou, en ’n skakel tussen die gemeenskap en munisipaliteit wees,” sê hy.
Allers sê dit is belangrik dat die forum op Oudtshoorn plaasgevind het omdat dit die dorp die geleentheid gebied het om sy beste voet voor te sit. “Al hierdie speakers het hierheen gekom, en kon teruggaan na hul dorpe toe en vertel hoe wonderlik ons dorp is.
Dit dra moontlik baie voordeel vir ons toerisme-bedryf.”
Wat die speakersforum op Oudtshoorn anders gemaak het as sulke forums elders, was dat al die speakers op een plek kon bly en tyd saam kon spandeer om bande te bou. “Die speakers was verskriklik beïndruk met Oudtshoorn, en ons het baie goeie terugvoer ontvang,” spog Allers. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Wes-Kaapse speakersforum op Oudtshoorn gehou
Speakers van munisipaliteite regoor die Wes-Kaap het voor-verlede week by De Opstal buite Oudtshoorn bymekaargekom om belangrike kwessies te bespreek.
Foto: Stefan Skapie Goosen