Aangename kennis

Foto: Ilse Jordan Photography

DIE week gesels ons met Stefan Goosen, beter bekend as Skapie, Die Hoorn se joernalis. Skapie is in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal gebore.

Skapie het by die Noordwes Universiteit Kommunikasie, Filosofie en Politieke studies gaan studeer met Engelse literatuur as hoofvak, maar weens finansiële redes moes hy voltyds gaan werk en kon nie sy studies voltooi nie.

Hy is al vir sowat 9 jaar in Oudtshoorn, maar het vir 3 jaar bietjie in Knysna en in die Kaap gaan werk.

Daar was hy te sien op die kassie as ’n televisie joernalis vir eNCA.

“Ek het tydens die Knysna-brande ’n paar keer regstreeks vir hulle uitgesaai, en ek glo dit is waar hulle my toe raakgesien het en ’n pos aangebied het,” vertel hy.

Hy het die uitdaging daar baie geniet, maar vertel dat sy hart by skryf lê en hy geniet dit baie om die gemeenskap se stories te vertel.

Hy hou baie van boeklees, nie-fiksie soos Hunter S Thompson maar veral fantasie verhale waarin hy kan ontsnap en wat sy aandag aflei.

Hy is ook ’n ywerige baskitaar speler.

Skapie hou baie van aartappel gebak, enigiets met vleis en is mal oor chakalaka. Hy verpes egter ertjies en afval.

Sy twee katte Ozzy en Axel hou hom gereeld geselskap, Ozzy is ’n swart kat en Axel is ’n groot wollerige gemmerkat.

“Ek sal nogal graag in die bos wil gaan bly om te kyk of ek sal kan oorleef,” vertel hy.

Om ’n stem te wees vir mense wat voel hulle het nie ’n stem nie en om mense se stories te vertel is een van die redes waarom hy sy werk as joernalis geniet.

“Die hoofrede hoekom ek skryf, is om mense in te lig van wat daar buite in die wêreld aangaan,” sluit hy af. Soos die spreekwoord lui “kennis is mag”, is dit presies wat Skapie wil doen, mense bemagtig met kennis.