Sowat 28 werkers wat ’n kontrak het met Thusego Maps het Maandagoggend by GG-Kamp betoog omdat hulle nie op 30 April betaling ontvang het nie. Volgens een van die voormanne van die groep is hulle 40 werkers wat sedert November waterpype vir Thusego lê.
“Ons verdien tussen R248 en R350 per dag per werker, maar ons word omtrent elke maand laat betaal en ons kry ook nie altyd oortyd nie,” het hy gesê. Die groep het gedreig om verlede Vrydag, 2 Mei te betoog, maar Thusego het glo belowe om die betaling dieselfde middag te doen.
Dit het egter nie gebeur nie en die groep het Maandagoggend die pad agter Fezekile Hoërskool met brandende materiaal, wat twee opslaan-toilette insluit, versper. Thusego het die kontrak bekom om verouderde waterpype met nuwe PVC-pype in sekere woongebiede te vervang. Die huidige werk vind in Wyk 8 plaas en die werkers is inwoners van Wyk 8.
Die polisie was op die toneel, maar daar was geen gewelddadige optrede deur die betogers nie. Die 40 werkers wat in diens is verteenwoordig ongeveer 240 gesinslede wat van die inkomste afhanklik is.
Volgens inligting wat Die Hoorn by bronne bekom het, is daar ook sprake dat die maatskappy sommige diensverskaffers nie gereeld betaal nie. Die Hoorn het ‘n navraag aan die munisipaliteit gestuur om te bevestig of gerugte waar is dat betaling aan Thusego teruggehou word omdat hulle nie aan al die vereistes van hulle kontrak voldoen nie.
’n Reaksie was teen spertyd nog nie ontvang nie. Die eienaar van Thusego is drie keer telefonies probeer bereik, maar die oproepe is nie beantwoord nie. Daar was ook teen spertyd nie op navrae per e-pos gereageer nie.
Indien enige van die partye intussen reageer, sal dit in ’n opvolgberig weergegee word.
Die woordvoerder van die groep werkers het Dinsdagmiddag bevestig dat van die werkers deur die loop van die dag betaal is, maar dat sommiges nog nie betaling ontvang het nie en dat oortyd ook nie betaal is nie. (HANNES VISSER)
Werkers betoog oor laat-betaling
Werkers van Thusego Maps het Maandagoggend betoog.
Foto Hannes Visser