

Oudtshoorniete het Vrydag-oggend met skok en hartseer die nuus ontvang dat die Allied-gebou in Kerkstraat, Oudtshoorn, aan die brand is.
Volgens inligting op die toneel bekom, het die brand vermoedelik in ’n haarsalon in die vroeë oggendure ontstaan. Die brandweer is ongeveer 06:00 die oggend na die toneel ontbied, met brandweermanne vanaf die Weermag sowel as Dysselsdorp wat hulp verleen het.
Die sesverdiepinggebou in Hoogstraat, sou Woensdag 7 Mei opgeveil word. Die veiling is vir eers afgestel, sodat die oorsaak van die brand en verslag aangaande die skade ondersoek kan word.
Die Hoorn het met Enslin Tarentaal, van Enslin Photography wat ’n perseel in die gebou huur, gesels oor die omvang van die skade.
Sy studio was geleë op die derde vloer, in kamer 310. Tans is die meeste van sy toerusting onder stof en roet, en die studio se mure is pikswart.
Daar is wel van sy items wat skade gely het, veral die agtergronde wat beskadig is en nie gewas kan word nie. “Gelukkig kon ek meeste van my kamera-toerusting red,” het Enslin gesê. Van sy toerusting is taai en klam en vol roet, maar hy kan tans nie sê of hy sy studio kan skuif en wat die toekoms inhou nie.
Ander besighede en maatskappye wat in die gebou kantore het, is onder andere Korrektiewe Dienste, die Regshulpraad (Legal Aid), SARS, ’n winkel met verskeie huisraad en ’n haarsalon. Winkels op die grondvloer is die ergste beskadig.
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het in ’n persverklaring wat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgereik is, gesê sy hart gaan uit na die sake-eienaars en huurders wat verliese gely het in die brand by die Allied-gebou.
“Ek wil ook my innige dank uitspreek aan alle noodpersoneel, brandbestryders en lede van die weermag, en selfs die verkeer wat vinnig en dapper gereageer het om die brand te bekamp. Julle toewyding gaan nie ongesiens verby nie.”
Klein Karoo Fonds (KKF), wat die gebou besit het per e-pos aan Die Hoorn gesê dat die maatskappy se direkteure nie op hierdie stadium ’n persverklaring gaan uitreik nie. “Ons kan eers kommentaar lewer nadat die ondersoek af-gehandel is en ons meer inligting tot ons beskikking het,” lui die verklaring.
Volgens Daniel Lötter, voormalige Oudtshoorniet, en bekende skrywer en historikus was die Allied gebou in die vroeë 60-jare opgerig deur die JBS (Johannesburg Building Society).
Die gebou was ook die eerste uitsaai-ateljee van Suid-Kaap Stereo, in die 90’s, en het die kantore van die Veiligheidspolisie in die 70-jare gehuisves waar verskeie politieke aktiviste van tyd tot tyd aangehou en ondervra is. (HANNES VISSER)

Foto’s bo en onder: Hannes Visser
