Twee botsings met koedoes het binne sewe dae op die pad tussen Oudtshoorn en George plaasgevind. Die botsings het ongeveer 15 km buite Oudtshoorn plaasgevind.
Die eerste koedoe is op 29 Januarie in die oggendure deur ’n VW Polo getref wat van Ouds-thoorn na George onderweg was.
Die tweede koedoe is Woensdagoggend 5 Februarie omstreeks 06:00 deur ’n afleweringsvoertuig getref. Geen insittendes is in die botsings beseer nie, maar albei voertuie het ernstige skade opgedoen.
Motoriste word gemaan om bedag te wees op koedoes op die George-pad en veral op die gedeelte voor die Perdeskoendraai tot by die afdraaipad na Zebra.
Volgens Theresa van der Westhuizen van CapeNature moet voertuigbestuurders bedag wees op koedoes – veral skemertyd soggens en saans.
Van der Westhuizen sê spesiale permitte word benodig om ’n karkas te verwyder.
“Sou enige lid van die publiek ’n karkas verwyder, neem hy of sy verantwoordelikheid vir die ongeluk, en kan hy of sy verantwoordelik gehou word vir die onkoste. Hy of sy kan ook strafregtelik vervolg word vir die besit van ’n karkas van ’n wilde dier en ’n skulderkenningsboete van R2 500 of meer deur CapeNature opgelê word.” (HANNES VISSER)
- Van der Westhuizen vra dat mense wat in ’n botsing met ’n wilde dier betrokke is, CapeNature dadelik moet skakel sodat die regte prosedure gevolg kan word met die verwydering van die karkas. CapeNature se telefoonnommer is 044 203 6300.