Drie Fiësta-benoemings vir Oudtshoorn se Swartmerrie

Theo Witbooi is as beste akteur vir sy rol in Die Swartmerrie vir ’n Fiësta-toekenning benoem. Foto verskaf

Die Swartmerrie, ’n plekspesifieke drama deur die KKNK se Karoo Kaarte-span, is vir drie kykNET Fiësta-pryse benoem.

Dié Oudtshoorn-produksie is benoem as beste feesproduksie, Theo Witbooi as beste akteur en Neil Coppen en Tiffany Saterdaght vir beste nuutgeskepte teks.

Oudtshoorn se verroeste treinspoor en verlate perron skets die agtergrond vir die verhoog, met Witbooi, Chantell Phillipus en Jermaine Bruintjies wat die aangrypende verhaal van Simon “Tjoekepaf” Baadjies vertel.

Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, sê “In 2024 het Karoo Kaarte ook verskeie Fiësta-benoemings ontvang en ons is trots daarop dat hierdie grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram van die KKNK, wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry, steeds nasionaal erken word.” Hy het ook die versekering gegee dat Die Swartmerrie weer by vanjaar se KKNK wat vanaf 1 tot 6 Aprlil plaasvind, opgevoer sal word.

Saam met Die Swartmerrie, is verskeie produksies wat in 2024 by die KKNK geopen het, vir Fiëstas benoem. Dié produksies is Die stoele en Vier Panado’s en ’n Chardonnay en Colbert Mashile se uitstalling The Dreams of Yonder, Untethered, Carmen Botma sameroeper van die paneel, sê 2024 was ’n wonderlike jaar van stories vertel en emosies opwek.

“Of ’n feesganger hulself in die gehoor van ’n buitelugmusiek-konsert bevind het of te staan gekom het voor ’n kunswerk, verskuilde gevoelens beleef het tydens ’n teaterstuk, sitplek ingeneem het by ’n paneelbespreking of hulle oë kon toemaak tydens ’n musiekuitvoering – dis te danke aan kunstenaars dat feesgangers kon toegang kry tot ’n ander wêreld, kon ontsnap van die werklikheid of hulle kon vereenselwig met die skeppende kuns voor hulle. Daarvoor sê almal van ons op die paneel dankie.”

Vanjaar se Fiëstas-toekenningsgeleentheid is op 27 Februarie by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad.