Die Hoorn het in die verlede reeds verskeie berigte oor die werksaamhede van diere-organisasies sowel as die diereskut geplaas. Dit blyk egter dat inwoners wat afhanklik is van die onderskeie diere-organisasies steeds onseker is oor presies waar hulle vir watter hulp met hulle troeteldiere kan aanklop as veeartsbesoeke finansieel nie moontlik is nie.
’n Inwoner het hierdie week beweer dat haar hond deur ’n diere-organisasie weggeneem is nadat sy hulle gekontak het en nou is sy glo haar hondjie kwyt.
Met die nagaan van al die korrespondensie tussen die twee partye is dit duidelik dat daar soos met vorige gevalle verskeie kante van die saak is en dat daar talle wasige grense is. Dit blyk dat troeteldiereienaars soms nie bewus is of hulle nie vergewis van presies wat die voorwaardes is as hulle hulle diere aan organisasies toe-vertrou nie.
Om inwoners te help om oordeelkundige keuses te maak, beplan Die Hoorn om binnekort al vier die huidige diere-organisasies wat in Oudtshoorn werksaam is sowel as amptenare van die munisipale skut bymekaar te bring met die oog op ’n berig wat presies die verskillende organisasies se fokusareas uitlig. (HANNES VISSER)
Dieresorg steeds onder die loep
