Water in kanaalstelsel

Water word tans via die kanaalstelsel uit die Stompdrift- en Kamanassiedam vrygelaat deur die SKWGV (Stompdriftkamanassiewatergebruikers-vereniging) tot Dinsdag 7 Mei 2024.

Met die bogenoemde in gedagte is dit belangrik om die volgende wenke te volg, sodat persone, kinders en diere veilig kan wees, wanneer daar water in die kanaal losgelaat word.

Gelukkig help die koeler weer ook dat daar nie lafenis teen die hitte in die kanale gesoek word nie.

Hier volg die wenke:
Vermy die kanaal onder alle omstandighede.

Moenie naby of in die kanaal stap, speel of swem nie.

Hou ook diere weg van die kanaal, om te verhoed dat hulle daarin val en verdrink.

Weet te alle tye waar u kinders is, veral na skool wanneer verskeie ouers werk en nie by die huis toesig oor hul kan hou nie.

Waarsku u kinders oor die gevare van die kanaal.

Die watervloei binne die kanaal is uiters sterk, al lyk dit stadig op die oppervlak.
Daar is ook verskeie drukpype wat nie met die blote oog gesien kan word nie, wat die vloei verder kan versnel.

Vermy die kanaalstelsel veral wanneer daar inname van alkohol betrokke is, meeste verdrinkings vind plaas wanneer persone onder die invloed van alkohol is.

Persone is ook nie altyd bewus van hoe diep die kanaal is nie, en die kouer water aan die onderkant kan tot krampe lei, wat persone in die moeilikheid kan laat beland.

Die skerp en hoë hellings van die kante van die kanaal, kan ook die uitklim moeilik maak.

Wanneer ’n persoon in die moeilikheid is, kontak dadelik die nooddienste by 044 203 7800.
Stoor ook die nommer op jou telefoon.

Moenie probeer inswem na die persoon toe nie, jy kan so jou eie lewe ook in gevaar stel. (Deur Angelique Erasmus)