DIE burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chad Louw (ANC), het raadslede van vyf partye ingesluit in sy burgemeesterskomitee wie se name nou bekend gemaak is. Hiermee het Louw al die partye wat ’n koalisie met die ANC gesluit het na die munisipale verkiesings, in leiersposisies ingesluit.
Dié burgemeesterskomiteelede, met die afdelings in die munisipaliteit waarvoor hulle verantwoordelik is, is Dora Moos van die ANC (finansiële dienste), André Rondganger van die Patriotic Alliance – PA (tegniese dienste), Leon Campher van die Advieskantoor (korporatiewe dienste), Mlandeli Nyuka van Suid-Kaap Saamstaan (gemeenskapsdienste) en Barbara Owen van Icosa (strategiese dienste).
Colan Sylvester (Oudtshoorn Gemeenskap Inisiatief – OGI) en Vlancio Donson (Icosa) maak ook deel uit van die leierskap nadat hulle by die eerste raadsvergadering na die munisipale verkiesing tot onderskeidelik speaker en onderburgemeester verkies is.
Die raadslede van die ander drie politieke partye wat tot die raad verkies is, die DA, VF Plus en Good, is in die opposisiebanke. (Deur Liesel le Roux)
Vyf partye verteenwoordig in Burgemeesterskomitee
