‘N MAN (46) van Dysselsdorp wat ‘n elfjarige seun met ‘n stuk pyp geslaan het, is in die streekhof op Oudtshoorn aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind en vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Jack Schoeman het skuldig gepleit op die aanklag dat hy op 8 Junie 2016 ‘n elfjarige seun per ongeluk met die pyp raakgeslaan het. Volgens hom het hy net gemaak asof hy slaan omdat kinders hom geterg het, toe die seun sy arms opgelig en hy raakgeslaan is.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het bevind dat die voorgeskrewe vonnis van tien jaar skokkend onvanpas sal wees. Hy het in ag geneem dat Schoeman ‘n mate van rou betoon en skuldig gepleit het. “Daar is meer as een rede om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis,” het die landdros met vonnisoplegging gesê.
Vn Wyngaardt het gesê die hof het verstaan wat vooraf gebeur het. Daar is voorts vrede gemaak en die kind se ma verlang nie dat die beskuldigde tronkstraf moet kry nie.
Kinders moet egter beskerm word, het Van Wyngaardt gesê en Schoeman op die staatsaanklaer, Hyron Goulding, se versoek ingevolge Art. 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Schoeman staan ook in ‘n ander saak ook tereg op ‘n aanklag dat hy ‘n 13-jarige meisie geforseer het om saam met hom te stap en gedwing het om ‘n onsedelike daad met hom te pleeg. Dié saak wat voor streeklanddros Daniel Boks dien, word op 13 April voortgesit. (Berig deur Garnett Wicomb)