
Kinders van Vlakteplaas Primêr wat in die produksie optree. By hulle is Andy Fortuin, hul musiek- en sangafrigter.
’N BESONDERSE musiekproduksie waarmee hulde gebring word aan Jans Rautenbach is môre (Vrydag, 14 April) op die planke by die KKNK op Oudtshoorn.
Rautenbach, bekroonde rolprentmaker en oud-voorsitter van die KKNK-direksie, is verlede jaar in November oorlede en het op die plaas Oulap naby De Rust gewoon.
‘Mis vir die Ou Oom’, geïnspireer deur Rautenbach se liefde vir die kunste en musiek, is om 14:00 in die Absa Burgersentrum te sien met onder meer leerders van Vlakteplaas Primêr, die Ad Astra-koor van die Hoërskool Oudtshoorn, die koor van die Laerskool Wesbank, die Kambro Diggers en die VGK Oudtshoorn-kerkkoor wat deelneem aan die produksie. Vlakteplaas Primêr, wat bekend staan as die beste plaasskool in die land, was ’n droom van Rautenbach en is in 2005 op Oulap gebou.
Volgens Rautenbach se seun, Gert, word sy pa beskou as “die NP van Wyk Louw van Afrikaanse rolprente”.
Gert vertel sy pa het bykans vier dekades in Kannaland gespandeer nadat hy dié deel van die land in 1970 “ontdek” het tydens ’n nagreis tussen Beaufort-Wes en De Rust. Hy was op soek na ’n interessante ligging vir die rolprent Pappa Lap. “Met sonop was hy in Meiringspoort en die lig-en-skaduspel op die kloof se rots-skeure het sy lewe verander,” vertel Gert. Rautenbach het vanaf Johannesburg verhuis en hom op Oulap, buite De Rust, gevestig.
Rautenbach was ’n stigterslid van die KKNK en het volgens Gert ’n groot rol op die Wes-Kaapse Toerismeraad gespeel om die Wes-Kaap as ’n bestemming vir buitelandse rolprentproduksies te ontwikkel. Saam met Cape Nature hy plekke soos Die Hel (Gamkaskloof) deur RSG asook SAUK-televisieopnames bemark. “Hy was ook verantwoordelik vir verskeie voedingskemas saam met kerkorganisasies, sowel as die dramatiese ontwikkeling van plaaslike skole: Vlakteplaas UCC Primêr, Elim Creche in De Rust en die Athlone Skool vir gesigsgestremdes,” vertel Gert.
“Hy het altyd ’n brandende geloof in die vermoë van gewone mense gehad en deur alles net ‘die ou oom’ gebly.”
Jans se laaste fliek, Abraham in 2015, is op Oulap verfilm met talle plaaslike amateurs in van die rolle. “Die produksie ‘Mis vir die Ou Oom’ is ’n groet en ’n dankiesê – deur lede van dieselfde gemeenskap. So sien ons hom nou, so sien ons hom nooit weer nie.”
• Kaartjies vir die produksie (R60) is te koop by Computicket en voor die vertoning by die venue.
(Berig deur Ilze-Mari Gründling)