Biologiese watertoetse eers Dinsdag bekend

Water-1

DIE eerste resultate van toetse wat op Oudtshoorn se water gedoen is, toon dat die ysterinhoud van die water binne Suid-Afrikaanse standaarde val, sê Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit.

Die resultate van biologiese watertoetse sal egter eers Dinsdagoggend bekend wees.

Die dorp se water kom van die Raubenheimerdam in die Swartberge en die gewoonlik helder bergwater is sedert swaar reën en vloedwater vroeër die week in die opvangsgebied troebel en bruin van kleur. Oudtshoorn het nie ’n watersuiweringsaanleg nie.

Die munisipaliteit het  inwoners en KKNK-besoekers intussen aangemoedig om drinkwater as voorkomende maatreël te kook, hangende die uitslae van die biologiese toetse.

Die munisipaliteit se waterafdeling het egter aangedui dat daar tans “geen rede is om te glo dat die water onveilig is vir menslike gebruik nie”.