Die polisie in die Suid-Kaap het verlede naweek in drie voorvalle beslag gelê op ongeveer R120 000 se dwelms sowel as twee onwettige vuurwapens.
ʼn Verdagte (31) het Maandag in die landdroshof in Ladismith verskyn nadat hy die naweek in hegtenis geneem is met 299 Mandrax-tablette, 417 banksakkies met tik en ʼn verdere 263,85 g tik.
Hy is deur die polisie voorgekeer nadat hulle inligting ontvang het dat die man met die dwelms vanaf Oudtshoorn onderweg was. Hy word aangekla van dwelmhandel en is steeds in aanhouding.
Polisieduikers het ʼn pistool en vyf patrone in ʼn dam naby Dysselsdorp gevind nadat inligting ontvang is dat iemand die pistool in die dam gegooi het. Die pistool se reeksnommer was verwyder en die oorsprong van die vuurwapen word ondersoek.
In Knysna het die polisie verlede Vrydag tydens ʼn inspeksie ʼn vuurwapen in ʼn voertuig gevind. Die eienaar van die vuurwapen is opgespoor en hy staar klagte in die gesig wat verband hou met die oortreding van die wetgewing op die besit van ʼn vuurwapen.
Vuurwapens en dwelms gevind
Polisieduikers met die vuurwapen wat in ʼn dam naby Dyssesldorp gevind is.
Foto verskaf