’n Chirurg, ’n donkiekar en 500 km

Dr. André Hattingh (Doc) by die donkiekar, Kiddies Een, wat hy en helpers gebou het. Foto: Hannes Visser

Die stigter van Pediatric Care Africa, Dr André Hattingh wat sedert verlede jaar in De Rust woon, vertrek op 8 April op ’n donkierit van 500 km om geld vir kinders met serebrale gestremdheid in te samel.

Die Hoorn het Maandag by Dr Hattingh, alombekend as Doc, ’n draai gemaak terwyl hy besig was om aan die splinternuwe donkiekar te werk. Doc, ’n uitgetrede neurochirurg, het Pedriatic Care Africa (PCA) in 2017 begin en sedertdien het dié nie-winsgewende organisasie gratis mediese sorg aan bykans 8 000 mense gegee waarvan byna 2 000 kinders was. Deur PCA kon 148 kinders ook tot dusver gratis operasies ondergaan.

“Toe ek in 1994 as dokter in Rwanda gewerk het tydens die gruwelike volksmoord het ek gesien hoe kinders ly en ek het besluit dat ek eendag my lewe daaraan gaan wy om vir kinders mediese sorg te bekom.” Daardie onderneming het gestalte gekry toe hy in 2017 Pedriatic Care Africa gestig het terwyl hy in Mpumalanga woonagtig was.

PCA se jaarlikse motorfietsrit van 7000 km is reeds landwyd bekend en verlede jaar in Februarie is ’n nuwe wêreldrekord opgestel toe 2 616 motorfietsryers in gelid vanaf Stormsrivier tot in Jeffreysbaai gery het. Daar is talle ander projekte wat PCA ook jaarliks onderneem om fondse vir mediese sorg in te samel, sowel as talle ander funksies wat aangebied word om gratis mediese dienste vir behoeftiges te bekom.

Doc het besluit om vanjaar die donkierit aan te pak vir twee spesiale rolstoele vir kinders met serebrale gestremdheid in die Klein Karoo. Hy verduidelik dat die stoele spesiaal volgens elke kind se gestremdheid en behoefte gemaak word en kos ongeveer R85 000 per stoel.

Die donkiekar word deur Doc en inwoners van De Rust gebou en word deur twee donkies getrek. “Ons het agt donkies van ’n eienaar in Dysselsdorp bekom wat baie mooi versorg is. Die veearts het hulle reeds ondersoek en hulle word tans gepamperlang totdat ons vertrek.”

Hy verduidelik dat die rit ook dien as bewusmaking vir die versorging van donkies. “Ons wil graag vir mense wys hoe ’n donkie behandel en versorg word en daarom wissel ons die donkies gereeld af. Twee trek en ses word op ’n voertuig vervoer. Ons het ’n donkiekenner wat ons bystaan en elke donkie kry ’n tuig wat spesiaal vir die donkie gemaak word.”

Die rit duur 18 dae en strek oor roete van 251km wat in De Rust begin en tweekeer herhaal word. Die Hoorn sal op 8 April in De Rust wees as die rit begin en lesers op hoogte hou van die daaglikse vordering van Doc en die donkies. Die roete sal ook gegee word indien mense langs die pad aanmoediging wil gee. (HANNES VISSER)