

Die terreine waar vanjaar se KKNK in Oudtshoorn aangebied word, was die afgelope week die spreekwoordelike miernes. Op die feesterrein, by die aantal sale en in strate was werkers en organiseerders van vroegoggend besig om die land se feesgangers volgende week hier te kan ontvang.
Dat vanjaar se KKNK een van die grotes gaan wees is duidelik as mens na die program kyk. Slegs die aanbiedinge by die Feesmark op die feesterrein sal mense elke dag besig hou.
Vir ’n dagkaartjie van slegs R150 of ’n week-kaartjie van slegs R550 het feesgangers toegang tot al die kuns- en kosstalletjies, kindervermaak, twee musiekverhoë, blitsteater-opvoerings, die pretpark, Checkers se Liplekker-teater en die ABSA-kuierkamer.
Alhoewel die fees amptelik op 1 April begin, kan feesgangers reeds op Maandag 31 Maart ‘n voorsmaak van die feesterrein kry. Die stalletjies open reeds om 17:00 vir ’n spesiale aandmark en vanaf 19:30 is daar op en wakker musiek op die groot verhoog met die openingskonsert. Die aand se kaartjies kos R80, maar is ingesluit by weekkaartjies.
Kom kry iets om te eet en te drink en begin die fees sommer een dag vroeër met die openings- konsert.
Daar is natuurlik ook hope gratis pret in Baron van Reedestraat waar die RSG en ATKV Kuierkol gaan wees. Daar gaan straatoptredes wees en soos gewoonlik is die Netwerk24 kafee weer agter die CP Nel-museum.
Daar is gesprekke oor aktuele sake, boekgesprekke en natuurlik ook boek- verkope. Visuele kunsuitstallings by verskeie plekke is ook heeltemal gratis.
Jy het nog net drie dae oor om te rus voordat jy jou waterbottel pak, jou hoed gryp, jou feesarmbandjie vasmaak en gaan feesvier. (HANNES VISSER)