Vrou wat mes steek kry borgtog

BORGTOG van R500 is in die Oudtshoorn landdroshof toege-staan aan ’n vrou wat van moord aangekla word.

Die 37-jarige Sonja Arries word aangekla van die moord op ’n man op 30 Januarie in Smartie Town. Arries het volgens die ondersoekbeampte, Ao Darome Burger, die betrokke aand in Reggy Oliphantlaan saam met vier mans gesit en drink toe hulle haar begin terg het oor ’n seks-speelding wat om haar lyf gebind was.

Sy het een van die mans, Nezal Tarentaal, spelenderwys op die bobeen gesteek waarna ’n woordewisseling plaasgevind het. Dit was volgens Burger nie ’n oop wond nie. ’n Rukkie later het Arries vir Tarentaal in die bors gesteek. Toe sy hom ’n tweede keer wou steek, het ’n ander man haar met ’n plank geslaan. Tarentaal was dood toe die ambulans opdaag. Volgens Burger is die mes waarmee Tarentaal doodgesteek is nog nie gevind nie. Sy het egter nie borgtog teengestaan nie omdat Arries geen hangende sake of vorige veroordelings teen haar het nie.

Landdros Roelf Konstabel het borgtog op R500 vasgestel op voorwaarde dat die beskuldigde elke Maandag en Vrydag tussen 06:00 en 20:00 by die Bridgton Polisiestasie aanmeld, nie by verdere misdaad betrokke raak en ook nie kontak maak met die staatsgetuies nie. Die saak is uitgestel tot 6 Maart. (Deur Garnett Wicomb)