Vrou Vrydag in hof vir R75 000 se dwelms versteek in witbroodmeel

Foto verskaf

’N 48-JARIGE vrou verskyn Vrydag (1 Oktober 2021) in die Ladismith Landdroshof nadat dwelms met ’n straatwaarde van R75 000 in haar besit gevind is.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is 980 Mandrax-tablette en 611 bankies Tik Woensdag versteek gevind binne vier 2,5 kg-sakkies witbroodmeel.

Spies sê polisiebeamptes van die Ladismith Misdaadvoorkomingseenheid en Oudtshoorn Misdaadintelligensie het omstreeks 16:30 ’n minibus-taxi op die R62 naby Ladismith gestop nadat hulle sekere inligting ontvang het. Die taxi is deursoek waarna die witbroodmeel binne die vrou se bagasie gevind is.

Die dwelms is gekonfiskeer en die vrou in hegtenis geneem op ’n klagte van die handel in dwelms. Spies sê voorlopige inligting dui daarop dat die taxi op pad was van Kaapstad en dat die dwelms bestem was vir die Klein Karoo.