Vrou van Volmoed in hof vir moord op haar man

DIE verhoor van ’n vrou van Volmoed wat tereg staan op ’n klagte van moord op haar man, is in die Oudts­hoorn Streekhof voortgesit en uitgestel vir ’n dokter se getuienis.

Die skraalgeboude Susan Plaatjies (45) word daarvan aangekla dat sy die pa van hul drie kinders, die 45-ja­rige Kiewiet Plaatjies, die aand van 2 Mei 2018 met ’n mes in die nek ge­steek het en hy op die toneel dood is.

Een van haar kinders het vroeër getuig dat hy gesien het hoedat sy ma die mes uit ’n rakkie haal en sy pa daarmee steek, maar onder kruisverhoor ontken dat hy dit gesien het.

Volgens hom het hy sy ma ook hoor sê dat sy sy pa gaan doodsteek.
Plaatjies pleit onskuldig en voer aan dat sy uit selfverdediging opgetree het.

Sy het ook getuig sy was baie dronk nadat hulle die betrokke dag baie gedrink het.

Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en Plaatjies is op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)