’N AANSOEK van ’n man van Calitzdorp om te appeleer teen sy skuldigbevinding aan twee aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en van diefstal is in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys.
Die 39-jarige Jackson Willemse, ’n man met nege vorige veroordelings, is daaraan skuldig bevind dat hy by ’n stoor op die plaas Celebratio naby Calitzdorp asook by die huiswinkel van Elizabeth Botha op Langverwacht ingebreek en onder andere ’n skootrekenaar, kraggereedskap, ’n TV-stel, luidsprekerstelsel en kruideniersware gesteel het.
Hy het aangevoer dat die hof fouteer het met sy skuldigbevinding en dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding kan kom.
Wat sy vonnis betref, is hy van mening dat die landdros die erns van die misdaad oorbeklemtoon het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die aansoek teengestaan omdat genoeg bewyse voor die hof gebring is dat Willemse die misdade gepleeg het.
Hy het gesê die vonnisse is lig, gesien in die lig van die ernstige misdrywe waaraan hy skuldig bevind is.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die aansoek afgekeur.
Volgens haar het sy slegs aandag gegee aan getuienis voor die hof, gekyk na die beskuldigde se houding in die hof en of hy wys hy het berou of nie.
“Tot vandag ontken u skuld ten spyte van die getuienis,” het die landdros aan Willemse gesê.
Volgens haar is Willemse aan twee misdrywe skuldig bevind waarvoor hy op elk tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis kan word.
Instede daarvan is hy tot ses jaar op elk gevonnis en glo sy nie dat daar ’n ander hof is wat ’n ander beslissing sal maak nie. (Deur Garnett Wicomb)