Bejaardes leef in vrees en eis dienslewering

Inwoners van die Swartberg Tuiste vir bejaardes op Dysselsdorp op die trappe van die munisipale gebou op Oudts­hoorn. Foto: Garnett Wicomb

INWONERS van die Swartberg Tuiste vir Bejaardes op Dysselsdorp leef in vrees en in haglike toestande omdat die Oudts­hoorn Munisipaliteit glo nie aandag aan die tehuis gee nie.

So lui ’n memorandum wat voor­ver­le­de week namens die inwoners deur Leon Campher van die Dysselsdorp Advieskantoor aan die burgemeester van Oudts­hoorn, Colan Sylvester, oorhandig is.

Sowat 20 van die bejaardes het ’n vreed­same plakkaatbetoging op die trap­pe van die munisipale gebou gehou terwyl Campher die versoekskrif voorgelees en namens hulle oorhandig het.

Die inwoners eis in die versoekskrif dat die munisipaliteit as eerste prioriteit onmiddellik weer sekuriteitsbeamptes soos voorheen aanstel om die bejaardes gemoedsrus te gee.

Die omheining van die perseel is so verniel dat boosdoeners sonder moeite die perseel binnekom. Volgens Campher is ’n bejaarde onlangs in haar woonstel aangerand en byna verkrag.

Ander gebreke is toilette wat nie spoel nie, kragbokse en deure wat nie kan sluit nie, stukkende toiletbakke en vensters asook lekkende krane.
’n Tekort aan beligting buite die perseel is nog ’n groot kwelpunt.

Nog ’n groot probleem wat volgens die vise-voorsitter van die Inwonerskomitee, Marthinus Swanepoel, deur die munisipaliteit aangespreek moet word, is jongmense wat glo op die een of ander manier in tien van die huisies op die perseel woon en nie huurgeld, soos die bejaardes, aan die munisipaliteit betaal nie.

Swanepoel sê die oord het ’n onveilige plek geword.

’n Voormalige werknemer van die ACVV, Johanna Smit, het die munispa­liteit gevra om die bejaardes hul waar­digheid terug te gee.

Sy het die munisipaliteit ook versoek om die digte bosse rondom die tehuis te verwyder omdat dit die skuilplek van misdadigers geword het.
Volgens haar kan die polisie hulle nie eers raaksien nie.

Sylvester het die inwoners die verse­kering gegee dat die munisipaliteit dringend aandag aan die kwessie sal gee en reeds ’n bedrag van R500 000 vanuit die burgemeestersfonds bewillig het vir herstelwerk aan die tehuis asook die taxi-staanplek wat ook ’n seeroog geword het.

• Tydens ’n besoek aan die tuiste verlede Maandagoggend was werknemers van die munisipaliteit reeds besig om die bosse en bome af te saag. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Bejaardes leef in vrees en eis dienslewering"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*