’N JONG vrou van Oudtshoorn wat aan mensehandel skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Lisa-Mare Williams (19) het in 2018 as 17-jarige by verskeie geleenthede minderjarige kinders teen vergoeding en vir seks na volwasse mans geneem.
Sy het op 16 klagtes tereg gestaan, maar is slegs op drie daarvan skuldig bevind.
Sy het voorheen haar borgvoorwaardes verbreek en volgens landdros Daniel Boks haar nie aan hofbevele gesteur nie. Sy was self toe sy jonger was ’n slagoffer van mensehandel.
Die landdros het met vonnisoplegging sy kommer uitgespreek oor die tendens wat tans in die dorp heers. Hy het gesê kinders wie se ouers werk, word deur mense soos Williams misbruik.
Volgens die landdros rus daar ’n plig op die gemeenskap om gevalle waarvan hulle bewus is by die polisie te rapporteer.
Die drie klagtes teen Williams is saamgeneem vir vonnis en sy is ingevolge Artikel 276 (1) (i) van die Strafproseswet tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. (Deur Garnett Wicomb)