Borgtog geweeier aan Ephraim Malgas

BORGTOG is Vrydag in die Oudts­hoorn Landdroshof geweier aan Ephraim Malgas, een van die vier verdagtes in die moordsaak van Justin Booysen van Rosebank.

Malgas staan saam met Simphiwe Ndoni, Lorenzo Malgas en Breyton Bruiners tereg op klagtes van moord en aanranding met die opset om erns­tig te beseer.

Die 30-jarige Justin Booysen is op Sondag 17 November 2019 in sy huis in Bella Rosasingel, Rosebank, dood­geskiet.

Die ondersoekbeampte, ao Daro­me Burger, het borgtog vir Malgas teengestaan.

Sy het gesê dit is in belang van geregtigheid dat hy in aanhouding bly.
Die aansoek is deur streeklanddros Ntombizandile Maseti aangehoor, wat borgtog geweier het.

Borgtog van onderskeidelik R5 000 en R3 000 is reeds aan Lorenzo Malgas en Breyton Bruiners toegestaan terwyl Ndoni besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie. (Deur Garnett Wicomb)