Borgtog geweier in ander saak teen moordverdagte

BORGTOG is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof geweier aan Breyton Bruiners (25) wat van aanranding om ernstig te beseer aangekla word.

Bruiners is ook een van vier verdagtes in die moordsaak van Justin Booysen van Rosebank (berig bo).

Bruiners, aan wie borgtog van R3 000 toegestaan is in die moordsaak, word in die tweede saak daarvan aangekla dat hy op 2 November 2019 ’n man naby die Bongolethu Taverne met ’n mes in die skouer gesteek het, asook agter sy rug en in sy kop.

Hy het aangedui dat hy onskuldig sal pleit.

Die ondersoekbeampte, ao Morné Janse van Rensburg, het borgtog teengestaan. Hy het aangevoer dit is in belang van geregtigheid dat Bruiners in aanhouding bly.

Volgens Janse van Rensburg was Bruiners saam met nog ’n verdagte wat nie opgespoor kan word nie en is die klaer ernstige steekwonde toegedien.
Landdros Roelf Konstabel het in sy uitspraak gesê Bruiners staan tereg op ’n Bylae 5-misdryf en kan tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word indien hy skuldig bevind word.

Hy het borgtog aan Bruiners geweier en die saak vir verhoor tot 3 April 2020 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)