’N 18-JARIGE man van Oudtshoorn het Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het Kiano Pretorius na bewering die vorige Vrydag vir Steven Minnies met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek.
Minnies is op pad na die hospitaal in die ambulaans oorlede.
Pojie sê dit blyk dat ’n groep mans ’n potjie dice gespeel het, waarna die verdagte en oorledene begin stry het oor wie laaste ’n R2-muntstuk gehad het.
Pretorius het die groep verlaat en later na bewering met ’n skerp voorwerp teruggekeer en vir Minnies in die bors gesteek het.
Die saak is deur Landdros Maseti na 16 April uitgestel. (Deur Angelique Erasmus)
Gestry oor R2-muntstuk lei tot dood van jong man
