Vrou steek broer glo ses keer met mes

DIE verhoor van ’n vrou van Oudtshoorn wat haar broer in 2018 glo ses keer met ’n mes gesteek het, het in die Oudtshoorn Streekhof begin.

Sunette Loxten staan tereg op aanklag van poging tot moord en ontken skuld omdat sy volgens haar regsverteenwoordiger in noodweer op­getree het nadat haar broer, Salman Loxten, haar met ’n skroewedraaier gesteek het.

Volgens haar leef sy in vrees vir haar broer, veral wanneer hy onder die invloed van alkohol is.

Sy het al ’n ander broer weens sy optrede aan die dood afgestaan.

Salman het getuig dat hy eintlik die saak wil terugtrek omdat hulle nie meer ouers het nie en saam woon.

Hy het getuig dat hy nie alles wat die betrokke Saterdag gebeur het, kan onthou nie en vra die hof om nie sy suster tronk toe te stuur nie.

Hy het erken dat hy haar met ’n skroewedraaier gesteek het nadat sy hom eerste met ’n mes gesteek het.

Sy was glo kwaad oor ’n kassie wat hy langs die wasmasjien laat staan het.
Volgens hom het hy lam geword en op ’n bank gaan sit waar sy suster hom verder gesteek het.

Die saak word deur streeklanddros Sylvia Mandla aangehoor. (Deur Garnett Wicomb)