Skoonmaakwerkers swaar deur Covid-19 getref

DIE verwydering van vullis het Dins­­dag weer op Oudtshoorn aan die gang gekom nadat dit sedert verlede week verskeie kere gestaak moes word met werkers wat met Covid-19 gediagnoseer is.

Vullisverwydering het as gevolg hiervan twee dae agterstallig geraak en alternatiewe tydelike maatreëls moes ingestel word om vullis te verwyder.
Vullis wat nie Vrydag en Maandag verwyder kon word nie, is Dinsdag vanaf 12:00 verwyder.

Vullis van Dinsdag en Woensdag sou Woensdag verwyder word, met vullisverwydering wat vanaf Donderdag hopelik weer normaal sal verloop.

Die munisipaliteit het aangedui dat enige veranderinge in planne ge-kommunikeer sal word.

Vullisverwyderig op De Rust en Dysselsdorp sal soos gewoonlik verloop.

Die munisipaliteit het ook die afgelope week ’n beroep op inwo­ners gedoen om nie huishoudelike vullis onwettig in oop spasies te stort nie.

Onwettige storting van vullis het toegeneem oor die afgelope week, wat dit nog moeiliker maak om die dorp skoon te hou.

Die munisipaliteit het ’n beroep op inwoners gedoen om saam te werk om die dorp skoon te hou.

Die munisipaliteit het die inwo­ners vir hul geduld gedurende dié baie moeilike tyd bedank.

“Die impak van COVID-19 op die noodsaaklike personeel van die Oudtshoorn Munisipaliteit is baie swaar, veral op die reinigingsdienste,” lui ’n verklaring van die munisipaliteit.

Die personeel van die eenheid vir skoonmaakdienste is tans in kwarantyn tot Maandag 27 Julie 2020 – ter wille van die veiligheid van die pu-bliek met wie hulle in aanraking mag kom.

Die munisipale skoonmaakdienste sluit die volgende in: vullisverwydering, die skoonmaak van oop ruimtes en die vee van Oudtshoorn se strate. (Deur Liesel le Roux)