’N VROU van Buffelsjachtfontein in die Calitzdorp-distrik wat haar vriend met ’n kombuismes doodgesteek het, is in die Oudtshoorn Streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind. Katrina Conradie (38) het onskuldig gepleit op ’n klagte van moord, maar skuldig aan strafbare manslag.
Sy sê in ’n pleitverduideliking dat sy besig was om groente te skil toe die oorledene, Willem Malgas, haar begin skel het oor kos. Volgens haar was hy dronk en het sy nie bedoel om hom te steek nie. Sy het wel geweet dat die mes hom kon beseer en haar optrede nie dié was van ’n redelike persoon nie. Sy was nugter en het geweet wat sy doen.
Met die mes in haar hand het sy Malgas weggestoot en hom per ongeluk raakgesteek. Sy het om hulp geroep en self hom probeer help maar hy is op die toneel oorlede. Sy het erken dat sy nalatig opgetree en daarvoor gestraf moet word.
Streeklanddros Sylvia Mandla het haar weergawe aanvaar nadat geen getuies deur die staat geroep is nie. Conradie word op 15 Junie gevonnis. (Deur Garnett Wicomb)