‘Hy was ’n man en ’n pa met die grootste integriteit’

Peter Gray (64). Foto Facebook

HY was ’n man en ’n pa met die grootste integriteit; iemand wat elke dag ’n ongelooflike voorbeeld vir almal gestel het.
So het Helené Gray die week haar pa, Peter Gray, beskryf. Gray is Dinsdagoggend in die Mediclinic George oorlede.

“Hy laat die grootste leemte! Ons gaan hom mis,” het sy gesê.

Gray (64), ’n luitenant-kolo­nel in die weermag op Oudts­hoorn wat einde 2017 afgetree het, was ook ’n kenner en liefhebber van die dorp se geskie­denis en ou geboue, en aktief be­trokke by die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiëringsforum as voorsitter van Sektor 3 (Oudts­­hoorn-dorp).

Volgens Helené het haar pa septisemie opgedoen en baie siek geword en het sy niere ook begin ingee. Hy is egter die oggend aan ’n massiewe hart­aanval dood.

“ ’n Werkskollega van my pa, Sollie Henning, het met sy aftrede hom so raak beskryf. Sy woorde was: Hoe kan ’n mens Peter Gray in ’n paar woor­de beskryf? Hy is ’n man van integriteit en leierskap, met merkwaardige kennis, insig en die vermoë om die groter prentjie te sien. Hy gee regtig vir ander om en is altyd gewillig om iemand ’n tweede kans te gee as jy foute maak. Hy is ’n rolmodel en mentor vir baie.”

Die erfeniskenner Hazel Jonker, saam met wie Gray die afgelope sowat 12 jaar historiese wandeltoere op Oudtshoorn aangebied het, sê Gray was passievol oor geskiedenis en argitektuur. Volgens haar het hulle mekaar leer ken toe hy begin het om ’n klein museum by die weermag op die been te bring.

“Hy was ’n absolute gentleman, lojaal, wonderlik tweetalig. Sy dood is ’n groot verlies vir die dorp,” het sy gesê.
Gray was sedert 2019 die voorsitter van die Vriende van die CP Nel Museum, en is verlede jaar aangewys as hul verteenwoordiger op die museum se trusteeraad. Hy was ook ’n komiteelid van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE).

Patrick Blaauw, voorsitter van die Oudtshoorn Gemeenskapspo­li­siëringsforum, sê as voorsitter van Sektor 3 het Gray altyd sy vinger op die pols gehad van wat gebeur.

“Geen taak was vir hom te klein of te groot nie. Hy was altyd daar om te help. Sy insette, deelname en teenwoordigheid in vergaderings gaan ons verskriklik mis. Aan die Gray-familie wil ons baie dankie sê dat julle hierdie fenomenale man vir ons kon leen om in vennootskap met die SAPD en ander strukture te kon werk. Ons eer sy lewe.”

Blaauw se volledige skrywe namens die polisiëringsforum kan in die briewekolom van Die Hoorn gelees word.
Gray word oorleef deur sy vrou Hanlie, Helené en ’n seun, Michael-John. (Deur Liesel le Roux)