Vrou met lang vingers kry R2 000 boete

Deur Angelique Erasmus
’N 62-JARIGE vrou van Calitzdorp is op 13 Mei in die Oudtshoorn Landdroshof skuldig bevind aan diefstal en ’n boete van R2 000 of een jaar gevangenisstraf opgelê. Myra Fourie is op 6 Mei by ’n plaaslike klerewinkel in hegtenis geneem.

Die inhegtenisneming het plaasgevind nadat ’n werknemer van Earth Angel in die Queen’s Mall, Alicia van de Haar, onraad vermoed het toe sy leë klerehangers op klererelings gesien het en die beskuldigde in die aantrekhokkie besig was om klere aan te pas. Fourie is deur Van de Haar gevra of sy haar handsak kan deursoek.

Fourie het ontken dat sy enige items daarin versteek het en wou nie toelaat dat haar handsak deursoek word nie. ’n Sekuriteitswag van die Queen’s Mall is ingeroep en die polisie daarna ontbied.

Fourie is met sowat R1 800 se kledingstukke in haar handsak betrap. Daar is later nog klere onder die tafel in die aantrekhokkie gevind. Die totale waarde van die items was om en by R4 000.

“Ons vermoed al ’n geruime tyd dat items uit ons winkel verdwyn, maar omdat ons die verdagte persoon jammer gekry het, het ons nooit die saak verder gevoer nie” sê Melia Pozyn, eienaar van Earth Angel.