Deur Angelique Erasmus
’N Bekende kunstenaar van Calitzdorp het gisteroggend weer in die Streekhof in Oudtshoorn verskyn op agt aanklagtes wat verband hou met seksuele misdrywe en die wys van pornografie aan minderjariges.
Volgens hofstukke is daar vier klaagsters en nege klagtes teen die man, wat een van verkragting insluit.
Die beskuldigde in die saak is reeds op 4 November 2018 in hegtenis geneem.
Sy eerste borgaansoek het misluk, maar op 8 April het sy regsverteenwoordiger, adv Benito Mtembo, daarin geslaag dat hy op borgtog van R2 000 vrygelaat is.
Daar is tydens Woensdag se hofverskyning gehoor dat vier getuies vir die verdediging in verband met agt van die klagtes gaan getuig.
Landdros Daniël Boks het die saak vir verhoor uitgestel na 16 en 19 Julie.
Adv Michelle Weyers tree namens die staat op.
Metembo het aan Die Hoorn gesê dat die verdediging die klagtes ten sterkste ontken, en dat dit in die hof bewys sal word.