Vriendelike ‘trollieman’ sterf tragies

Franklin Timmie

HY was die een wat altyd gegroet en geglimlag het, die een wat altyd gehelp het, Oudtshoorn se vriendelike “trollieman”.

So het Oudtshoorniete vandeesweek vir Franklin Timmie (22) onthou wat Saterdagoggend (15 Januarie) in die Oudtshoorn Hospitaal oorlede is. Franklin het gesterf nadat hy ernstige brandwonde opgedoen het toe twee informele strukture in die vroeë oggendure in Rosehillstraat begin brand en in puin gelê is.

Hy het ten tye van die brand by vriende oornag. Dit is nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.

Franklin, onder vriende be-kend as Springkie en Buss, het die afgelope maande buite Pick n Pay op Oudtshoorn mense gehelp om hul trollies met kruideniersware te stoot en met sy mooi geaardheid baie vriende gemaak. Hy het voorheen ook by Checkers mense bygestaan met trollies.

Volgens sy tannie, Maria Timmie, het Franklin by haar en haar man Edward in Bella Rosasingel gewoon. Sy sê iemand het haar Saterdagoggend vroeg kom wakker maak met die nuus dat Franklin ernstig gebrand het.

“Toe ek daar kom, het hy in die pad gelê en ek kon sien hy het baie erg aan veral die een kant van sy lyf gebrand. Hy het geleef, maar kon nie praat nie. Ek het sy naam gesê en hy het sy oë oopgemaak.”

Die ambulans het hom na die Oudtshoorn Hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het, maar volgens Maria is hy omstreeks elfuur die oggend dood.

Sy sê die manier waarop hy so ’n “bittere dood” gesterf het, is vir haar en haar man baie swaar. ’n Roudiens vir Franklin het Woensdagaand by hul huis in Bella Rosasingel plaasgevind.

Onder die baie boodskappe op Facebook is daar hierdie een van een van sy vriende, Terstin Mei: So klein en vol lewe / Het jy na beste gestrewe / Al was dit trolliestoot hier / Daar die optel van ’n papier / Was jy nederig op die grond, plat / Hartbrekend dat die brand van vuur jou lewe so kon vat / Een oomblik Springkie hier /Ander oomblik uitgebrand in die vuur / Maak jy ’n groot gat net so in ons hartveld / Met woede wat by my opkom – kon niemand dan help? / Jy was my maat / Ek weet elkeen is gebreek in Rosehillstraat / Elke vriend / Elke een wat nes ek die mooiheid in jou kon sien. (Deur Liesel le Roux)