Na aanleiding van die hemelhoë rekeninge wat besighede en organisasies voorverlede week vir vullisverwydering ontvang het, het die munisipalitiet die versekering gegee dat daardie rekeninge reggestel sal word.
Daar kon tot op hede nie vasgestel word wie die rekeninge goedgekeur het en waarom daar nie voor die tyd bespeur is dat bedrae skielik sonder enige kennisgewing of verduideliking die hoogte ingeskiet het nie. Daar was besighede wat rekeninge van tot R12 000 ontvang het en een organisasie moes meer as R20 000 opdok.
In ’n mediaverklaring verlede week het die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, gesê daar was in Mei-maand ’n telling van swartsakke by besighede gedoen en die berekeninge is daarvolgens terugwerkend gedoen. Hy het egter gesê dat die proses van voor af in samewerking met besighede en organisasies gedoen sal word. ’n Sakeman wat met Die Hoorn gesels het, sê hy het ernstige vrae oor die sogenaamde telling, want hy sit geen swartsakke uit nie.
Hy verstaan dat hy die basiese vullistarief moet betaal, maar vind dit onverklaarbaar dat hy ’n geweldige rekening ontvang het. “Watter sakke het hulle dan getel?” wou hy weet.
Die Hoorn het Maandag aan die munisipaliteit ’n navraag gestuur om te bepaal wat die tarief per besigheid is, wat die maksimum aantal sakke is wat teen daardie tarief uitgesit mag word en wat die koste per addisionele sakke sal wees. Teen Woensdag is daar nie ’n reaksie ontvang nie.
Die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Abri Ferreira, het Dinsdag ’n verduideliking wat van die burgemeester ontvang is, aan lede gestuur. Volgens die verduideliking word vullistariewe op ’n jaarlikse basis bereken en in 12 maandelikse paaiemente verdeel. Buiten die vasgestelde tarief wat volgens ’n toelaatbare aantal sakke bepaal word, word koste per addisionele swartsak gehef.
Op die tariewelys wat op die webtuiste van die Groter Oudtshoorn munisipaliteit verskyn, is die tarief vir besighede R455,22 per maand. Dit maak voorsiening vir die verwydering van drie swartsakke drie maal per week. Verwyderingskoste van addisionele sakke is R3,04 per sak.
Indien ’n verklaring met ’n verduideliking oor die tariewestruktuur van die munisipale bestuurder ontvang word, sal dit op Die Hoorn se FB-blad geplaas word. (HANNES VISSER)
Vrae oor buitensporige rekeninge vir vullis
