Moenie geld gee vir bedelaars, asseblief

Foto: Die Hoorn argief

“Dink voordat jy gee”, is die boodskap van ’n inisiatief wat inwoners vra om geen geld op straat aan veral kinders en moeders met babas, te gee nie. Die munisipaliteit en toerismekantoor beklemtoon in kennisgewings wat tans versprei word, die nadeel wanneer geld aan bedelende kinders gegee word.

Wanneer kinders geld op straat ontvang, moedig dit hulle aan om met die gewoonte voort te gaan en dit hou hulle weg van skole en organisasies wat spesifiek daar is om kinders by te staan.

Baie van die kinders raak afhanklik van middels en wend die geld daarvoor aan. Dit baat ook nie om kos of klere te gee nie, want dit word weer verkoop. In die geval van moeders wat bedel met babas is die gevaar dat die babas saamgeneem word en aan weersomstandighede en ander gevare blootgestel word.

Die kennisgewing wys daarop dat die Wes-Kaap verskeie omvattende projekte en toelaes het om kinders en babas te ondersteun. Daar is ’n dringende beroep op inwoners wat graag iets wil doen om eerder skenkings en bydraes aan geregistreerde organisasies te maak en nie aan individue op straat nie.

Daar het in die verlede reeds verskeie berigte oor die probleem en die uitdagings van kinders op straat in die media verskyn. Die feit dat kinders en volwassenes wat bedel, geld ontvang, dra by tot die probleem eerder as om dit op te los. Moet asseblief nie die probleem instandhou deur geld aan bedelaars te gee nie.

Noodnommers wat gebruik kan word om voorvalle aan te meld:
SAPD: De Rust 044 241 8802, Dysselsdorp 044 251 8800, Oudtshoorn 079 893 9968
Nooddienste: 063 651 4676 / 063 651 4675
Provinsiale verkeer: 044 272 4197
Departement van maatskaplike ontwikkeling: 044 814 2131.