Voortrekkerweg bly Voortrekkerweg

Uitslag van openbare deelnameproses:

Deur Liesel le Roux
VOORTREKKERWEG in Oudtshoorn se naam gaan nie na Nelson Mandela Boulevard verander nie.

Die raad het Vrydag by ’n raadsvergadering be­kend gemaak dat besluit is om in die lig van inwoners se bydraes tydens ’n onlangse openbare deelnameproses, nie Voortrekkerweg se naam te verander nie.

Dit het ook geblyk dat goedkeuring vir die verandering van die straatnaam in elk geval ook eers van die provinsiale regering ver­kry sal moet word omdat Voortrekkerweg ’n provinsiale pad is.

98,6% van inwoners wat gereageer het, was gekant teen die verandering van die straat se naam en 99,7% gekant teen die verandering van die naam na Nelson Mandela Boulevard.

366 mense het gereageer met altesame 92 reaksies wat deur hulle ingedien is. Slegs een persoon was ten gunste daarvan dat die straat na Nelson Mandela Boulevard verander word.

Volgens die raadsagenda het inwoners verskeie voorstelle by hul terugvoer ingesluit. Daar is onder meer versoek dat die geld wat op ’n naamsverandering gespandeer moes word, eerder gebruik word vir die verbetering van dienste. Ander het aangedui dat so ’n naamsverandering te duur sal wees vir die munisipaliteit, besighede en die eie­naars van woonhuise in die straat.

Voorstelle is ook ingedien vir ander name wat meer geskik sou wees (byvoorbeeld Beyers Naude, Alex Laguma, Attakwa en Karoo), terwyl ander voorgestel het dat ’n nuwe straat of plein eerder na Mandela vernoem kan word.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, het by die vergadering gesê terugvoer van inwoners wat tydens die openbare deelnameproses ontvang is, was meerendeels van “gegoede” inwoners en dat die raad maniere moet vind om ook “ander gemeenskappe” te bereik.

• Die raad het op 30 Januarie vanjaar ’n voorstel van Sylvester aanvaar om die naam te verander nadat die DA- en ANC-raadslede dit gesteun het. Die naamsverandering sou saamval met die vie­ring van Mandela se 100ste verjaardag en reeds moontlik tydens die KKNK in werking tree.

Teenkanting vanuit alle oorde was egter van die begin af fel – op sosiale media asook in briewe en sms’e aan Die Hoorn.
Talle mense het gevra vir ’n naam wat eerder die geskiedenis van die streek weerspieël terwyl baie kapsie gemaak het teen die finansiële implikasies van ’n naamsverandering deur ’n munisipaliteit wat onder finansiële druk is.