Katolieke kerk groet biskop

POUS Franciskus, hoof van die Katolieke Kerk, het Maandag, 2 Julie 2018, die bedanking aanvaar van Francisco de Gouveia, biskop van Oudts­hoorn, op grond van gesondheidsredes.

De Gouveia lê sy amp as leier van die Katolieke Kerk in die Eden-, Karoo- en Wynland-distrikte ná agt jaar neer.
Hy is in Mei 2010 deur die pous aangestel as biskop van Oudtshoorn.

In ’n verklaring van die voorsitter van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppekonferensie sê aartsbiskop Steven Brislin van Kaapstad dat De Gouveia se toestand ’n negatiewe impak gehad het op sy bediening as biskop.

De Gouveia het om hier­die rede die pous toestemming gevra vir ’n minder stresvolle bediening in die kerk.

Die proses om ’n nuwe biskop aan te stel sal binnekort begin, maar kan ’n ruk neem, sê Brislin. Intussen word die Katolieke Kerk in die streek bestuur deur vader John Atkinson van George, wat as administrateur van die bisdom sal waarneem totdat die pous ’n nuwe biskop aanstel.

Atkinson is ’n boorling van Oudtshoorn en het sedert sy priesterwyding op Swellendam, Knysna, Mosselbaai en George gewerk.